|
|
 |
|
 |
|
|
| Sentrum vir Gesondheidsisteemnavorsing en Ontwikkeling
|
Welkom by die Sentrum vir Gesondheidsisteemnavorsing & Ontwikkeling (SGSN&O)
|
Agtergrond
Die SGSN&O is in 1993 deur Professor H.C.J. van Rensburg tot stand gebring. Die Sentrum se aktiwiteite is ’n voortsetting van ’n ryk tradisie van navorsing en opleiding in mediese sosiologie/die sosiologie van gesondheid en gesondheidsorg in die Departement Sosiologie. Gestig spesifiek om die behoefte aan sosiaal-wetenskaplike en operasionele navorsing en verwante vaardighede op die terrein van gesondheid en gesondheidsorg aan te spreek, het die SGSN&O konstante groei en uitbreiding in terme van personeelvoorsiening, projekte, die omvang en diversiteit van N&O-aktiwiteite en finansiële stand getoon. Na baie jare van suksesvolle bestuur beskik die Sentrum – te midde van die immer groterwordende plaaslike, nasionale en internasionale navorsingsamewerking en vennootskappe – prysenswaardige ervaring en kundigheid in ’n aantal studieterreine en metodologiese benaderings.
Missie en doelwitte
Die SGSN&O is toegewy aan doeltreffendheid, billikheid en gelykheid in gesondheid en gesondheidsorg. Dit strewe daarna om ’n konstruktiewe bydrae tot die optimalisering van gesondheidsdienste en die gesondheid van die mense van Suid- en Suider-Afrika te lewer. Die vernaamste doelwitte van die Sentrum is om:
• te voldoen aan die behoefte vir sosiaal-wetenskaplike N&O-vaardighede op die terrein van gesondheid en gesondheidsorg.
• navorsingsbevindings en inligting rakende gesondheid en gesondheidsorg te genereer en te versprei.
• te help met die ontwikkeling en herstrukturering van gesondheidsisteme ten einde billikheid, gelykheid, doeltreffendheid en doelmatigheid te verhoog.
• personeel, studente, kliënte en begunstigde groepe te bemagtig deur aktiewe betrokkenheid by N&O-aktiwiteite.
• ’n platform vir opleiding te bied, asook om kundigheid uit te brei in die sfere van gesondheidsisteem-N&O.
Aard en omvang van werk
Binne die raamwerk van genoemde breë doelwitte, beskou die SGSN&O sy rol as om wetenskaplike kennis te genereer sowel as om op die heersende beleid, inligting en ontwikkelingsbehoeftes in die gesondheidsisteme van die Vrystaat Provinsie en dié van Suid-Afrika te reageer. Die fokusareas en -aktiwiteite van die Sentrum omvat sewe hoofprogramme, naamlik:
• MIV/VIGS/SOS’s, antiretrovirale behandeling, sorg en ondersteuning, MIV-berading en –toetsing, seksualiteit en reproduktiewe gesondheid.
• Tuberkulosebeheer en TB-MIV-programintegrasie.
• Gesondheidinligtingsisteem, gesondheidsondersoeke en omgewingsprofilering.
• Gesondheidsisteem-navorsingsontwikkeling.
• Distriks-gesondheidsisteemontwikkeling.
• Gesondheidsbeleid, wetgewing , en menseregte.
• Gesondheidsbestuur en -ontwikkeling.
Gebeure in 2009
• Twee voltooide projekte
• Vier voortgaande projekte
• Een nuwe projek
• Elf wetenskaplike tydskrifartikels
• Twee volumes/hoofstukke in boeke
• Een gepubliseerde navorsingsverslag
• Agtien internasionale kongresaanbiedings
• Elf nasionale/plaaslike kongresaanbiedings
• Agt personeelontwikkelingsinisiatiewe
• Twaalf besoekers van oorsese instellings
• Een besoek aan oorsese instellings
• Vyf besoekers van nasionale instellings
|
|
|
| Hoofnuus |
|
|
 |
|
|