Afrikaans vandag

Wat het skrywers soos Karel Schoeman, Antjie Krog, Alexander Strachan en Jaco Jacobs gemeen?

Hulle is almal oudstudente van die Universiteit van die Vrystaat se Departement Afrikaans en Nederlands en daarom deel van ʼn trotse tradisie wat terugstrek tot 1919 toe die skrywer D.F. Malherbe die heel eerste professor in Afrikaans in die land geword het. Jy kan ook deel van hierdie tradisie word! As jy lief is vir taal- en letterkunde is Afrikaans en Nederlands die kursus vir jou.

Waarom Afrikaans en Nederlands?

Deur Afrikaans en Nederlands te studeer, kry jy:

  • die analitiese en skryfvaardighede wat jy vir talle lewensituasies en beroepe nodig het;
  • die basis vir sukses in enige ander universiteitskursus;
  • die poort tot ʼn legio beroepsmoontlikhede soos die joernalistiek, taalpraktyk, onderwys, uitgewerswese, die advertensie- en gasvryheidsbedryf;
  • die geleentheid tot studie in die buiteland, want Afrikaansstudente kry jaarliks studiebeurse om in Nederland en België te studeer.

Waarom die Universiteit van die Vrystaat?

Die UV bied jou een van die heel beste Afrikaanskursusse in die land, met uitstekende dosente, erkende skrywers, en geleenthede vir verdere (internasionale) studie. Jy kry:

  • kundige leiding;
  • rykdom aan keuses;
  • persoonlike aandag;
  • deelname aan intellektuele debatvoering en kulturele wisselwerking.

Waaroor gaan die voorgraadse kursus?

Die kursus het drie vertakkings vir drie doelgroepe, naamlik:

  • huistaal,
  • addisionele taal,
  • aanleerders.

Laasgenoemde is gemik op mense wat geen voorkennis van Afrikaans het nie en in die ander twee vertakkings verdiep jy jou algaande in:

  • Afrikaanse taalkunde (sintaksis, morfologie, semantiek, pragmatiek en sosiolinguistiek);
  • Afrikaanse letterkunde. Jy lees romans, kortverhale, gedigte en dramas en leer dit intelligent ontleed en oortuigend daaroor skryf.
  • Jy doen ook Nederlands! Die Nederlandse letterkunde en Nederlandse taalverwerwing geniet aandag en die topkandidate word ingeskryf vir die internasionale Nederlandse eksamen, CNaVT.
  • Jy leer krities en selfstandig dink.

Wat behels die nagraadse opsies?

Jou voorgraadse studie rus jou toe om tot op die hoogste vlak te studeer: honneurs-, magister- en doktorsgraad. En as jy ʼn voornemende skrywer is, is die departement se Meestersgraad in Kreatiewe Skryfkuns spesifiek daarop ingestel om jou in staat te stel om ʼn publiseerbare manuskrip te lewer.

Die besonderhede van al die nagraadse kursusse kry jy in die Fakulteit Geesteswetenskappe se Jaarboek.

Op honneursvlak kan jy spesialiseer in óf taal- óf letterkunde, óf ’n kombinasie van taal- en letterkunde. Jy kan ook ’n multidissiplinêre honneurs doen deur byvoorbeeld Afrikaans, Frans en Duits te kombineer, Afrikaans en Engels, of Afrikaans en Kommunikasiewetenskap.

Honneursklasse vind meestal in die middag plaas en is kontakgebaseerd – een uur per week per module, of twee uur elke twee weke.

Op magistervlak het jy twee opsies: ʼn navorsingsverhandeling oor ʼn onderwerp wat saam met jou promotor en die departementshoof gekies word, of ʼn gestruktureerde MA in Kreatiewe skryfkuns. Onder die hofie Akademies kry jy die skakel Nagraads waar al die besonderhede oor die MA in Kreatiewe Skryfkuns te kry is. Kortliks is dit ʼn tweejaarkursus waarvoor jy gekeur moet word en waarin jy tien werksessies van vyf uur elk per jaar moet bywoon.

Vir ʼn Ph.D. (doktorsgraad) moet jy ʼn verhandeling skryf oor ʼn onderwerp wat deur jou promotor en die departementshoof goedgekeur is.

Voornemende nagraadse studente moet voor 31 Oktober aansoek doen.

Ons woeker!

Dit is vir die departement belangrik dat die publiek deelneem aan en baat vind by al ons ekstrakurrikulêre bedrywighede, soos die maandelikse populêre lesingreeks, literatuurfees, film-aande en gedenklesings. Stuur ʼn e-pos aan die departementele sekretaresse (sien Kontak Ons) om jou naam op die adreslys te kry en so te sorg dat jy na al ons geleenthede uitgenooi word.

Klik onder die hofie Akademiese Inligting op die skakel Kortleerprogramme om meer te wete te kom oor ons kursusse Gesellig Afrikaans 1 en 2 wat spesifiek gerig is op mense wat geen kennis van Afrikaans het nie.

Kontak ons gerus

Indien jy enige inligting verlang of hulp met aansoeke wil hê, kan jy ʼn e-pos stuur aan die departementele sekretaresse, Ida Meiring (meiringi@ufs.ac.za). Onthou, aansoeke om toelating moet voor 31 Oktober in wees.


Fakulteitkontakte

T: +27 51 401 2240 of humanities@ufs.ac.za

Nagraads:
Marica Coetsee: +27 51 401 2369

Voorgraads:

Katlego Mabulana: +27 51 401 2495
Juanita Hlongwane: +27 51 401 3269

Humanities photo next to contact block