Hierdie lewe: ’n Afskeid
Vir Karel Schoeman was niks toevallig nie.
Die heel eerste keer het ek met ’n sakkie biltong by Karel Schoeman se deur in die aftreeoord Noorderbloem in Bloemfontein opgedaag.
Dit was die winter van 2009. My ma het die biltong saamgestuur, van die plaas af waar ek en my gesin daardie vakansie deurgebring het en ek via ’n uiters wankelende internetverbinding met Schoeman ’n onderhoud vir die destydse tydskrif Boeke-Insig probeer voer het. Ek het in die snerpende wind by die plaashek gaan staan om ’n sterk genoeg sein vir sy e-pos uit Bloemfontein te kry, erg bewus daarvan dat Schoeman eintlik nie onderhoude toestaan nie en dat ook daardie ene prekêr gebengel het aan sy uiters streng voorwaardes. En toe kry ek daar by die plaashek die uitnodiging dat ek moet kom tee drink, indien dit vir my enigsins moontlik is...
Tog ook ’n streng voorwaarde: geen kamera nie!
En toe hy die deur vir my oopmaak, skiet sy blik af na die sakkie in my hand, verontwaardiging klap oor sy gesig. “Is dit ’n kamera?” hyg hy.
“Nee,” sê ek bedroë, “dis net ’n sakkie biltong wat my ma gestuur het.” En terwyl ek lammerig verduidelik dat sy net so ’n groot bewonderaar is as ek, breek ’n verleë glimlag oor sy gesig en hy draai om en ek loop agter sy sinne aan wat my gaan haal waar ek by die plaashek gestaan het en vir hom ge-sms het en my bring deur die stralende Vrystaatse winterlig en ek gaan sit en hy praat met sy sagte bry en golwende ritmes en daar begin ’n gesprek wat vyf jaar sou duur, hoofsaaklik per e-pos, hoewel ek nog ’n keer of drie by hom sou gaan kuier.
Die internet, het ek spoedig agtergekom, veral e-pos en Youtube, het Karel se lewe haas onmeetlik verruim. Ek dink dit is omdat dit hom in staat gestel het om vanuit die afgeslotenheid van sy woonstel met die buitewêreld in kontak te kom, op sy voorwaardes te kommunikeer – op ’n veilige afstand. Laatnag kry ek byvoorbeeld van hom die volgende: “Het nou net (o, die wondere van YT!) na die laaste episode van Chabrol se verfilming van Madame Bovary gekyk met Huppert wat die arseen inneem en lank en pynlik sterwe.”
Ons praat oor die filmkuns ("ek dink film het my in my skryfwerk veel meer beïnvloed as enige tekste"), oor boeke en skrywers (Thomas Bernhard, George Sand, Thorton Wilder) oor die skryfambag, musiek (Schubert), geskiedenis, die Vrystaatse weer: “Koue oggend, koel dag, bleekblou, wolklose lug, warm in die son; pragtig buite by Wimpy, waar die blindings opgetrek was en ek vandag van ’n tafeltjie nie die groen rantjie anderkant die parkeerterrein kon sien nie, maar ook die wasigblou berge teen die horison na die ooste, Thaba Nchu se kant. Vrystaat!!!.”
Ek het soms tot tien e-posse per dag van hom gekry; in die bestek van vyf jaar meer as vierduisend. Met die deurgaan daarvan is ek verwonderd oor die wydlopendheid daarvan, die diepgang, die geskakeerdheid, die wellewendheid en heel dikwels die geestigheid. Dis asof ek vergeet het watse rykdom hy my nagelaat het. Goed, ook hierdie wisselwerking het volgens sy voorwaardes geskied. Ek het geweet hoe om my te gedra, ek het hom altyd ge-u (hy het my nooit regstreeks aangespreek nie) en ons gesprekke was heel dikwels ’n skynskermutseling tussen uitgewersredakteur en skrywer. Hy het redakteurs verpes, trouens, enigeen wat aan sy teks wou torring, ook kritiek op sy styl en woordgebruik het hom geweldig geërger. Hy het my goedig ’n GAS genoem – ’n Goeie Afrikanerseun, oftewel ʼn 19de-eeuse Suid-Vrystaatse Calvinistiese moralis (sy woorde). Hy kon hom verkneukel aan die hoenders wat ek in daardie stadium op die werf aangehou het, en toe ek ’n slag ’n bietjie te hoog oor Freud se doodsdrif aangegee het, het hy my soos volg aarde toe gebring: “Op die oomblik sien ek visioene van bedremmelde hoenders op ’n ry onder ’n druppende geut besig om hul doodsdrif te verwerk. Men zou er een film van kunnen maken!”
Al om die hawerklap was daar ’n Nederlandse frase in sy e-posse. Hy het homself as Nederlands gesien, ’n Vrystaatse Nederlander. “Wonderlik om ná vele jare weer Nederlands te kan praat, asof ek my skaapvelpantoffels aantrek; nie soseer of nét die taal self nie, as al die herinnerings en assosiasies wat dit vir my besit.”
Oor Afrikaans en Afrikaners was hy dikwels snedig. Op ’n buurvrou se skalkse opmerking oor sy afstandelikheid reageer hy ’n keer soos volg teenoor my (ek was daar vir tee): “Onder die Iere het ek my nie tuis gevoel nie; ook nie onder die Nederlanders of die Engelse nie. Maar onder die Afrikaners voel ek die minste tuis. Die feit is net, ek is hulle gewóónd.”
Nadat ek hom laat weet dat Camus glo sou gesê het Amerikaanse skrywers is die enigstes in die wêreld wat nie ook intellektuele is nie, reageer hy so: “Camus het nooit Afrikaans gelees nie, anders sou hy sy stelling uitgebrei het.”
Dalk in daardie trant nog die volgende, ook omdat dit ingelui word deur een van Schoeman se mantras: Niks is toeval nie:
“Maar niks is toeval nie, soos jy sal onthou. Gisteroggend sit ek buite die House of Coffees by Prellerplein, agter neergelate plastiekskerms, met blêrende musiek-op-band, en probeer Homeros lees (‘Tussen de gracht en de wal, bij de schepen, stroomde de ruimte / vol met een menigte wagens en schilddragend volk ...’), peinsend oor die rykheid van die lewe en die ewe ryke verskeidenheid van Westerse en ander kultuurvorms. Aan ’n tafeltjie naby was ’n ouerige egpaar besig om te gesels, waarvan ek die vrou se bedeesde bydrae nie kon hoor nie, maar wel die gesaghebbende negentiende-eeus-patriargale toon van die man (‘tipies Afrikaans’ sou ek venynig kan byvoeg). ‘Jy verstaan niks daar van nie,’ het hy op een tydstip verklaar, rustig en nie onvriendelik nie, maar met volkome selfvertroue en gesag; en ek moes by myself oorweeg dat dit vir my heeltemal onmoontlik sou wees om so ’n sin te formuleer, ongeag wie my gespreksgenoot is of waaroor dit gaan.”
Niks is inderdaad toeval nie, dit besef ek ook toe ek met die deurgaan van ons korrespondensie agterkom hoe dikwels dit oor die dood gegaan het. Met die enigmatiese slotsin van die verklaring wat ná sy dood uitgereik is, “so is dit genoeg”, brandend in my gemoed, spring ʼn e-pos wat hy op 16 Augustus 2011 aan my gestuur het in die oog:
“Ek wil egter ter algemene begeestering jou aandag spesifiek op die volgende vestig: ‘Zo is het genoeg’ ...!”
Kan dit wees? Ek lees ademloos verder:
“... dat waren de laatste woorden van Jan Wolkers, beeldhouwer, schilder, schrijver. Anderhalve week voor zijn tweeëntachtigste verjaardag werden hem ‘s nachts door zijn vrouw Karina twee boterhammen met jam gebracht. Hij at een paar stukjes, lachte naar Karina en zonk weg in een slaap waaruit hij niet meer zou ontwaken. Onno Blom volgde een jaar lang het dagelijks leven van Jan Wolkers op de voet. Zo is het genoeg is het aangrijpende verslag daarvan. Dit fraai gebonden boek (De Bezige Bij, 14,90) wordt geïllustreerd met tientallen foto’s uit het privé-archief van Jan en Karina Wolkers. Een vitale ode aan het leven, een bezonken kanttekening bij ouderdom en dood.”
Die meeste van ons e-posse, dink ek toe, was kanttekeninge by ouderdom en dood. Maar dan merk ek ook hoe Schoeman die e-pos afgesluit het, op skalkse, lig-ironiese toon: “Kry net ’n soortgelyke opdrag van ’n belangstellende uitgewer, dan kan jy jou uitgewerswerk by die venster uitgooi, met z’n allen na die Vrystaat verhuis, en vir die volgende jaar vir jou ’n werklokaal in die siekeboeg by Noorderbloem aanvra. Van die boterhammen met jam sal ek egter dankbaar afsien.”
Sou hy onthou het dat hy dié boodskap aan my gestuur het? Stellig wel. Ek het dikwels verstom gestaan oor sy geheue. Nee, ons korrespondensie eintlik was eintlik ʼn “vitale ode aan het leven ...” Ek sal dus elke keer wanneer dit in die Vrystaat reën, onthou hoe Karel Schoeman in sy bed lê en luister het na die volword van die emmer wat hy onder die geut gesit het net sodat hy die volgende dag, bloot omdat hy die versoeking nie kon weerstaan nie, die een of ander korrespondent laat weet hoeveel emmers hy op die roosbedding kon uitgooi.
Francois Smith is dosent in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Vrystaat.