Latest News Archive

Please select Category, Year, and then Month to display items
Years
2017 2018 2019 2020
Previous Archive
14 June 2018 Photo iStock
Dealing with the trauma of sexual assault

University life is supposed to be one of the most enjoyable times of a person’s life. Unfortunately, for some this is the time they may fall victims to sexual assault.
 
The term sexual assault has shockingly become normalised in society and has become a common threat to university students. The University of the Free State (UFS) through its sexual harassment, sexual misconduct, and sexual violence policy strongly condemns any form of sexual abuse. Dr Melissa Barnaschone, Director at Student Counselling and Development (UFS) says the university cares for the health and wellbeing of students and provides necessary support for victims of sexual assault and trauma.
 
It is unfortunate that sexual assault comes with many misconceptions that often shift responsibility and blame from the perpetrator to the victim. “It is important to always remember that it is not your fault; do not blame yourself,” says Dr Barnaschone. Helpguide.Org: Trusted guide to mental & emotional health says sexual assault leaves psychological wounds and sometimes long-lasting health challenges. Such trauma can severely affect a person’s ability to cope with daily academic, social, professional, and personal responsibilities.
 
Any sexual violence is a crime and as a victim, you are not to blame. Healing is achieved when you start to believe that you are not responsible for what happened to you. Visit Helpguide.Org for more information on post-traumatic stress disorder, trauma recovery tips and other related topics.

On this video clip, Dr Barnaschone shares some guidelines to deal with sexual assault and trauma: 

News Archive

UV-koshuislewe moet help om toekoms vir jong mense te bou, sê rektor in Volksblad-artikel.
2007-08-20

UV-koshuislewe moet help om toekoms vir jong mense te bou, sê rektor.

Leierskap en vernuwing van denke en praktyke ten opsigte van koshuise is noodsaaklik as die Universiteit van die Vrystaat (UV) van ’n verdeelde kampuslewe wil wegbeweeg, skryf Prof. Frederick Fourie, rektor en visekanselier van die UV in Volksblad.


SEDERT die UV-raadsvergadering van 8 Junie vanjaar, waar nuwe beleidsriglyne vir diversiteit in koshuise aanvaar is, is talle menings oor hierdie uiters belangrike en sensitiewe kwessie gepubliseer.

Vir die UV en die land is sulke debatvoering noodsaaklik en wil ons dit graag aanmoedig. Ek het elke standpunt noukeurig gelees en verstaan die irritasies, die beangstheid en die verwagtinge wat deur die raadsbesluit geskep is en die verskillende menings wat gepubliseer is.

Dat die bestuur van diversiteit ’n komplekse aangeleentheid is, word in hierdie debat weerspieël. Ook dat die mense in hierdie land nog worstel met die nalatenskap van ’n ingewikkelde verlede.

Dit word byvoorbeeld weerspieël in menings met terme soos “hulle” en “ons”, en veralgemenings oor (dikwels negatiewe) eienskappe wat aan “hulle” toegedig word. Dit is deel van ’n groter ongemaklikheid met mense wat “anders” is.

Opponerende standpunte pleit vir verdraagsaamheid en aanvaarding. Ander handel oor vrese van taalverdringing, veral wat Afrikaans betref.

Die vraag is of ons hier in die Vrystaat regtig wil voortgaan – soos nou die geval is – om ’n samelewing te skep waar jong mense en die leiers van môre in twee parallelle wêrelde leef, een wit, een swart, geskei op grond van taal, kultuur en ras – sonder om mekaar se wêrelde, denkwyses, drome, teleurstellings, vreugdes en pyn te verstaan.

Dit is die werklikheid van koshuise op die hoofkampus van die UV. Waar die parallelmedium-¬onderrigbeleid die onbedoelde uitwerking het om studente in grootliks wit Afrikaanse en swart Engelse klasse te verdeel, is die gekombineerde uitwerking erg.

As rektor is dit uit ’n breë opvoedkundige oogpunt vir my ontstellend as ek met wit finalejaar-¬studente in koshuise praat en hulle sê vir my dat hulle nog nie gereed is vir ’n rasgemengde omgewing nie, terwyl hulle binne maande in so ’n omgewing sal moet werk.

Net so ontstellend is dit wanneer jong swart leiers geen ervaring het van vriendskappe en van noue samewerking met wit studente nie.

Dit laat ’n mens wonder of die universiteit nie in sy opvoedkundige taak met hierdie studente misluk het nie.

Sonder twyfel speel koshuise ’n deurslaggewende rol in die vorming van inwoners se denke en sosiale opvoeding. Koshuislewe het ook ’n sterk impak op die res van die studentelewe op die kampus. As ons wil wegbeweeg van ’n verdeelde kampuslewe, is leierskap en vernuwing van denke en praktyke ten opsigte van koshuise noodsaaklik.

Oor die afgelope 10 tot 15 jaar het die UV sy leierskap in Suid-Afrikaanse hoër onderwys getoon deur verskeie inisiatiewe, soos byvoorbeeld die akademiese en navorsingsvernuwing, die tydige instelling van ’n parallelmedium-taalbeleid, ons samelewingsdiensleerbeleid en beslis ook deur die aanstelling van personeel uit die aangewese groepe.

Sulke leierskap is ook nou nodig in die hantering van ons koshuislewe. Dit is deel van ons vordering as universiteit wat trots is op sy innovering, sy uitnemendheid en sy billikheid.

Vandaar die besluit van die raad van die UV om integrasie in koshuise te begin. Hierdie besluit herbevestig eintlik ’n beleidsbesluit van tien jaar gelede, naamlik om ’n diversiteitsvlak van 30% in koshuise te bereik. Dit word aanvanklik ingevoer by eerstejaars.

In die praktyk beteken dit dat ’n koshuis soos Huis Abraham Fischer, wat 125 lede het en ongeveer 30 eerstejaars, in 2008 ongeveer tien nie-wit studente moet inneem.

Die beleidsriglyne is ’n gebalanseerde middeweg tussen die verskeie standpunte waarna die bestuur geluister het in die konsultasieproses wat die besluit voorafgegaan het. Die riglyne balanseer ook die sienings van die verteenwoordigers van verskeie belangegroepe wat in die raad self inspraak het, waaronder die alumni.

Terwyl baie mense sou saamstem met die gedagtes hierbo, is party tog ongemaklik met bepaalde praktiese aspekte, byvoorbeeld of dit reg is om mense van verskillende kulture te “dwing” om in ’n “huis” saam te bly.

Daar is deeglik oor hierdie kwessie besin. Die UV se uiteindelike antwoord is dat ’n mens nie ’n koshuis as ekwivalent aan ’n woonhuis, die private ruimte van ’n individu, kan beskou nie.

Koshuisstudente is wetlik mondige jong mense wat hul ouerhuis verlaat en vrywillig saam met honderde ander studente in ’n verblyfgerief of “losieshuis” van ’n openbare instelling tydens hul studie gaan bly.

Die feit dat daardie gerief ’n versorgde omgewing is onder die goeie toesig en beheer van die universiteit, verander nie aan die feit dat dit ’n openbare verblyfgerief is nie.

Maar die UV se nuwe beleidsriglyne eerbiedig wel die onderskeid tussen private en openbare ruimtes deur koshuiskamers as private ruimte te erken. Wat ekwivalent kan wees aan ’n woonhuis is die kamer van ’n student in ’n koshuis. By die keuse van kamermaats sal persoonlike voorkeure dus die deurslag gee.

In elk geval moes studente in die huidige koshuisbedeling ook saam met medestudente bly wie se gedrag of gewoontes hulle aanstoot kon gee – sonder dat hul enige keuse gehad het. (Eintlik is daar ook nie eers veel van ’n keuse as dit kom by kamermaats in die eerste jaar nie. Die plasing word gewoonlik deur die koshuis gedoen.)

In die huidige opset is daar dus besliste elemente van beperkte “vryheid van assosiasie” en beperkte keusevryheid. In ’n openbare blyplek kan dit nie juis anders nie.

Drie jaar gelede het die UV sy honderdste bestaansjaar gevier. In daardie honderd jaar het die UV van ses studente tot die huidige 25 000 gegroei. Die akademiese programme wat aangebied word, het verander, koshuistradisies het verander, die status van vrouestudente en vrouepersoneellede het verander, tegnologie het verander, die rassesamestelling van die studente- en personeelkorps het verander en die taalbeleid het telkemale verander (van die oorspronklike Engels tot dubbelmedium tot Afrikaans tot die huidige parallelmedium).

’n Universiteit se gedaante bly dus nooit dieselfde nie. Wat ons in 2004 gevier het, was die goeie uit die verlede, maar ook die voordele van verandering en die afwagting van die toekoms. Ook in koshuise en hul tradisies is daar mooi dinge wat behou moet word, maar ook vernederende en onsmaaklike praktyke wat gerus maar kan verdwyn sodat nuwe tradisies ontwikkel kan word.

Vir die toekoms van hierdie land met al sy diversiteit is dit noodsaaklik dat swart studente en swart jong leiers leer om wit studente en wit jong leiers te sien as bates en vennote waarmee die land se uitdagings gepak kan word. Terselfdertyd moet wit studente leer om swart studente en swart jong leiers te sien as vennote waarmee hulle saam die toekoms kan ingaan.

Netwerke en byvoorbeeld toekomstige sakekontakte moet oor rassegrense heen ontwikkel word op ’n basis van wedersydse vertroue en kennis van mekaar – én gedeelde verhale van goeie studentedae en studentepret wat saam beleef is.

Die nalatenskap van ons verlede is dat feitlik alle mense in Suid-Afrika, wit, swart of bruin, steeds onvermydelik in rasseterme dink, al is hulle hoe billik of oopkop of verlig of liberaal of “ten gunste van transformasie” of wat ook al.

By die jeug is dit dalk minder. Die uitdaging, veral vir ouers en opvoedkundige instellings, is om ons kinders en jong mense – sowel swart as wit – na ’n nie-rassige toekoms te lei waar hulle van hierdie bagasie verlos is. Hulle mag nie wees soos ons “grootmense” (my geslag en die ouer geslag) nie, mag nie so beangs wees oor mense wat “anders” is nie. Anders het hulle nie ’n toekoms saam nie.

Dat die oorgang nie maklik gaan wees nie, is ’n feit. Daarom is die bestuur dringend besig om saam met studente ondersteuningsmeganismes te ontwerp om verskeie aspekte van die nuwe bedeling en koshuislewe in die algemeen aan te pak.

Dit sluit die taalkwessie, sekuriteit, verkose strukture, gedragskodes, ensovoorts in. Ek wil graag aan almal die versekering gee dat ons alles in ons vermoë doen om met groot versigtigheid en omsigtigheid hierdie nuwe bedeling vir ons koshuise te implementeer.

Hierin vra ons die samewerking van almal om polarisasie en die voortsetting van kwetsende vooroordele en stereotipes teen te werk.

Wat taal betref, het die UV reeds begin met gidsprojekte om koshuise te ondersteun met byvoorbeeld tolkdienste in huisvergaderings – met goeie gevolge. Dit is deel van die UV se vasbeslotenheid om meertaligheid en ’n gevoel van tuisvoel by al sy studente te probeer vestig binne die konteks van ’n nie-rassige, nie-seksistiese, meertalige universiteit van gehalte.

Laat ons dus die begrip van naasteliefde werklik op die Kovsiekampus uitleef, waar die meeste sowel swart as wit studente so sterk in die Christelike tradisie staan.

In ’n volgende bydrae word aandag aan kwessies soos vryheid van assosiasie en konsultasie gegee.

Woensdag 29 Augustus 2007
UV benader integrasie in koshuise ‘opvoedkundig’


DIE Universiteit van die Vrystaat (UV) se bestuur sal voortgaan om met groot versigtigheid en omsigtigheid die raad se besluit oor die integrasie van koshuise doelgerig in werking te stel, skryf prof. Frederick Fourie, rektor en visekanselier, in die tweede en laaste aflewering oor dié onderwerp.

DIE Universiteit van die Vrystaat (UV) se benadering tot diversiteit en rasse-integrasie in sy koshuise is opvoedkundig van aard.

As ’n universiteit behoort die UV in sy koshuise ’n omgewing te skep waarbinne studente kan leer om die ryk diversiteit wat by die universiteit gebied word, te waardeer en te respekteer.

’n Universiteit huisves studente uit baie verskillende agtergronde ooreenkomstig ras, taal, godsdiens, ekonomiese status, kultuur en ander aspekte. As ’n student op universiteit ’n waardering vir hierdie ryk diversiteit kan ontwikkel, sal hy of sy dit ook in die werkplek en breër samelewing na waarde skat.

Hierbenewens is daar ook ander aspekte van die koshuise wat aandag moet kry. Eerstens moet ons dringend ’n menseregtekultuur in die koshuise vestig sodat die regte van alle studente gerespekteer kan word.

Ons moet aandag gee aan diskriminerende, onsmaaklike en vernederende praktyke, sowel as alkohol¬misbruik. Ons moet aan gestremde studente hul regmatige plek gee en waarlik ’n leerkultuur in studentekoshuise vestig.

Hoekom “gedwonge integrasie”?

Die UV het reeds tien jaar gelede, ook ná oorlegpleging met studente, tot ’n nuwe koshuisbeleid besluit. Die bedoeling met daardie bedeling, waarin die term “kultuurkoshuise” tot stand gekom het, was nooit om 100% homogene koshuise – swart en wit enklaves – te skep nie.

Die uitdruklike bedoeling was om 30% rassediversiteit in koshuise te bewerkstellig, ooreenkomstig die transformasie van die UV.

Vir redes wat onduidelik is, het die destydse bestuur van studentesake nie hierdie doelwit doelgerig geïmplementeer nie. Wat wel duidelik is, is dat koshuise nie die tien jaar gebruik het om ongedwonge hierdie integrasiedoelwit na te streef nie.

Vrywillige integrasie – die alternatief wat nou voorgestaan word – het nie plaasgevind nie. Die teenoorgestelde het gebeur, naamlik segregasie onder die vaandel van “kultuurkoshuise”.

Die uiteinde is die huidige situasie waar ’n wit en ’n swart student wat koshuis- of selfs kamermaats in ’n koshuis by Grey of Eunice of menige ander skole was, nie saam in dieselfde universiteitskoshuis kan woon nie.

Hulle het in effek nie ’n keuse nie. Dit is ’n voorbeeld van die dwang wat in die praktyk by UV-koshuise bestaan.

Dit is opmerklik dat diegene wat beswaar maak teen “enigiets wat gedwonge is”, nie ewe beswaard was en is oor hierdie dwang wat die afgelope jare op studente geplaas is nie.

Daar is ook aanduidings dat studente wat van gemengde skole kom en daar vorentoe begin beweeg het op die pad van nie-rassigheid, dikwels deur die heersende monokulturele koshuiskultuur terugwaarts op daardie pad (dit wil sê retrogressief) gesosialiseer en vervorm word.

Om ongenuanseerd van “dwang” te praat, maak dus nie sin nie. Enige besluit deur ’n universiteit, of enige ander organisasie, ten opsigte van beleidsake, reëls en regulasies, impliseer ’n beperking op die keuse van ’n individu.

Dit is ’n bestuur se verantwoordelikheid om beleidsbesluite te neem met ooreenstemmende beleidsdoelwitte. Geen bestuur kan egter daarna Gods water oor Gods akker laat loop sodat byvoorbeeld personeel of studente vrywillig kan besluit of hulle van die beleidsdoelstellings hou en of hulle die beleid gaan implementeer nie. Dit sou swak en onverantwoordelike bestuur wees, en nie ’n manier om ’n goeie universiteit te verseker nie.

Wat van “vryheid van assosiasie”?

’n Ander argument is ten opsigte van die reg op vryheid van assosiasie. Dit blyk dat baie mense hierdie reg verkeerd verstaan en wil toepas. Die UV verstaan vryheid van assosiasie as dat dit betrekking het op die reg van individue om vrywillige organisasies soos klubs of private losieshuise te stig, of hul reg om hulle by bestaande organisasies aan te sluit of nie.

’n Student oefen daardie reg uit wanneer hy/sy besluit om ’n student aan die UV te word, en weer wanneer hy/sy kies om in een van die universiteit se koshuise te bly.

Sodra ’n persoon egter vrywillig besluit om hom/haar by ’n organisasie aan te sluit, kan hy/sy nie daarna daarop aandring dat die organisasie ’n “klub” of koshuis na sy/haar smaak moet voorsien waar hy/sy byvoorbeeld slegs met sy/haar keuse van medelede kan assosieer nie. Die student moet die beleide van daardie organisasie aanvaar.

In elk geval, hoe sou daardie reg en keuse van een student gebalanseer word teen die reg van ’n ander student wat met ’n ander groep medelede wil assosieer? Byvoorbeeld, wat van die vryheid van ’n student om te assosieer met studente wat nie uit sy eie agtergrond kom nie, maar wel van ’n ander taal-, kulturele, ras- of ekonomiese agtergrond?

Die grondwetlike reg op vryheid van assosiasie kan in elk geval nie gebruik word om mense uit te sluit of teen mense te diskrimineer op grond van ras of godsdiens nie (artikel 18 van die Handves van Menseregte). Die regte wat ons in ’n demokrasie geniet, moet teen ander regte gebalanseer word.

Buitendien maak die nuwe beleidsriglyne steeds ruim voorsiening vir vryheid van assosiasie. Hierdie reg kan vryelik binne ’n diverse koshuis uitgeoefen word ten opsigte van kamermaats, vriendskappe en kuier, gesamentlike akademiese werk, sosiale bedrywigheded, sport, studenteverenigings en klubs, ensovoorts.

Hopelik sal swart en wit studente in ’n nuwe bedeling die persoonlike sowel as loopbaanwaarde van ’n vriendekring wat wyer strek as slegs jou eie taal-, kultuur- en rasgenote, besef en dienooreenkomstig hul lewens laat verryk.

Koshuise en huiskomitees kan ook steeds tot 50% van eerstejaars plaas – ’n ongekende reg van UV-koshuise teenoor dié van ander universiteite.

Wat van konsultasie?

Wat die konsultasiekwessie betref, wil ek graag aandui dat die UV konsultasie en inklusiewe besluitneming as ’n baie belangrike beginsel beskou. Ek was persoonlik betrokke by sommige van die vergaderings met studenteleiers.

Primes, die SR en studente-organisasies is in die eerste semester van 2007 tydens twee rondes konsultasies geraadpleeg oor die voorgestelde nuwe plasingsbeleid om diversiteit in koshuise te verhoog.

Sommige koshuise het ook geskrewe voorleggings oor die saak ingedien. Ander koshuise het meer tyd versoek en dit is aan hulle toegestaan, maar hulle het uiteindelik geen voorleggings ingedien nie.

Gedurende hierdie interaksies het studente met verskeie versoeke en voorstelle vorendag gekom. Hierdie sienings het ’n besliste uitwerking op die uiteindelike voorstel gehad wat na die universiteitsraad geneem is, veral ten opsigte van die minimum vlak van diversiteit (30%) in junior koshuise en die feit dat koshuise steeds ’n sê wil hê in die plasing van studente, eerder as dat die plasing uitsluitlik in die hande van die bestuur gelaat word (daarom die 50%-plasingsaandeel van koshuise).

Nuwe taakspanne is ook onlangs gevorm om kritieke aspekte van die implementering te ondersoek en voorstelle te maak. Die studenteraad en studenteleiers van elke koshuis en studente-organisasie word hierop verteenwoordig. Bykomende geleenthede gaan ook geskep word waar ander koshuisstudente insette kan lewer en hul mening teenoor die taakspanne kan lug.

Party mense sien konsultasie as ’n proses waar konsensus bereik moet word – en, veral, konsensus tussen die bestuur en hulle. Dit moet egter beklemtoon word dat konsultasie nie verstaan kan word as ’n onderhandelingsproses nie, en dat dit ook nie impliseer dat konsensus bereik moet word nie.

Konsultasie vereis wel dat bestuur ’n ingeligte besluit moet neem nadat hulle die sienings van belanghebbendes aangehoor het. Dit moet ook uiteraard belanghebbendes oor die spektrum van sienings en benaderings insluit – nie slegs een deel van die politieke spektrum nie.

In ’n onlangse artikel in Volksblad sê mnr. Naudé de Klerk dat die alumni by die UV-bestuur aandring “om uiters versigtig voort te gaan” met integrasie van koshuise. Ek wil mnr. De Klerk verseker dat die UV-bestuur inderdaad sal voortgaan om met groot versigtigheid en omsigtigheid die raad se besluit doelgerig te implementeer. Ons handel en dink al die afgelope twee jaar of meer baie versigtig hieroor.

Ek nooi ook ouers, alumni en ander belanghebbendes uit om te enige tyd konkrete skriftelike voorstelle te maak om die beleid suksesvol in te voer in die lig van die vele uitdagings wat die UV en die universiteitswese in die gesig staar.
 

We use cookies to make interactions with our websites and services easy and meaningful. To better understand how they are used, read more about the UFS cookie policy. By continuing to use this site you are giving us your consent to do this.

Accept