Boere leer in kompetisie skape markgereed maak

Vida Booysen
Artikel in Sake 24, Volksblad, 26 Augustus 2008

'n Groep opkomende boere van die Vrystaat het deelgeneem aan 'n kompetisie wat waarskynlik 'n eerste in sy soort in die provinsie is.
Danksy die organiseerders en borge van 'n ope dag oor voerkraalkundigheid wat by Dewetsdorp gehou is, kon die nuwelingboere leer hoe om hul slaglammers markgereed te kry.

Die boere, van wie die meeste in die omgewing van Sannaspos boer, is genooi om slaglammers in te skryf vir 'n kompetisie. Die skape is voor slagting vir 'n tydperk in 'n voerkraal geplaas. Daarna is die karkasse gegradeer en elke deelnemer het individuele terugvoer ontvang oor sy inskrywing – iets wat groot waardering ontlok het.

"Dis ontsettend waardevol om die kuns van boerdery te leer by mense wat wéét hoe. Naas finansiering, is kennis van die regte boerderytegnieke een van ons grootste behoeftes", sê mnr. Lehlonono Plakkies, een van die kooperatiewe boere op M's Farm naby Sannaspos.

Die kompetisie was 'n inisiatief van die Sentrum vir Uitnemendheid (Centre of Excellence) in die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Sentrum vir Landboubestuur en die Suid-Afrikaanse Vleisbedryfsmaatskappy (SAMIC). Dit vorm deel van die UV se betrokkenheid by Asgisa, die regering se ekonomiese groeiplan.

Ander rolspelers was onder meer die Landbank, verskeie agri-ondernemings en selfs individuele boere soos mnr Wolla Terblanche, wat sy abattoir beskikbaar gestel het, en mnr Koot Pienaar, voorsitter van die Dewetsdorp-studiegroep.

Volgens prof Basie Wessels, sameroeper van die UV se gemeenskapsvennootskapsprojek MUCPP en sy Asgisa-been, besef Suid-Afrikaners nie aldag die krag en waarde van deelname aan 'n geïntegreerde groeiplan nie.

"Elke mens in Suid-Afrika se innoverende en kreatiewe denke word benodig om 'n nuwe pad van ontwikkeling te bou wat finansiële leefruimte vir almal sal skep. Onthou, as eenheid is ons sterker as die somtotaal van ons dele."



BLOEMFONTEIN CAMPUS FACULTY CONTACT

Elfrieda van den Berg (Marketing Manager)
T: +27 51 401 2531
E:vdberge@ufs.ac.za

QWAQWA CAMPUS FACULTY CONTACT

Dilahlwane Mohono (Faculty Officer)
T: +27 58 718 5284
E:naturalscienceqq@ufs.ac.za

Home new

We use cookies to make interactions with our websites and services easy and meaningful, to better understand how they are used and to tailor advertising. You can read more and make your cookie choices here. By continuing to use this site you are giving us your consent to do this.

Accept