Unlaagering conference 2020

For detail on the second call for papers for the Unlaagering conference, 16 to 17 January 2020, please click here.

In the Media - Afrikaans Version

Verruim jou horisonne en word deel van die gesprek in en met die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans

Niemand stry daaroor dat Afrikaans die laaste klompie jare onder groot druk verkeer nie, maar die afdeling Afrikaans en Nederlands in die groter departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die UV bruis voort met vele akademiese en gemeenskapsinisiatiewe. Die positiewe ingesteldheid van studente én kollegas verras trouens gereeld.

Voorgraadse opsies

Op voorgraadse vlak bestaan die bekende Afrikaans en Nederlands-kursus steeds; ’n addisionele taalkursus (niemoedertaal) word reeds jare aangebied. Vanaf 2019 word ’n Gespreksafrikaanskursus (Conversational Afrikaans) vir persone met geen voorkennis van Afrikaans ook vir voorgraadse studente aangebied. Die dept. hoop om ook op die manier positief verder by te dra tot meertaligheidsinisiatiewe aan die UV.

Kortleerprogramme

Daar word naas die akademiese kursusse ook al die afgelope 15 jaar ʼn kortleerporgram buite kantoorure vir volwassenes aangebied. Die kursus Gesellig Afrikaans word elke semester aangebied vir o.a. internasionale studente, besoekende dosente en navorsers en belangstellendes uit die publiek. Gesellig Afrikaans word sedert 2017 ook volledig aanlyn aangebied met die hulp van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns sodat persone in ander wêrelddele (sonder amptelike kontaktyd) ook Afrikaans kan aanleer.

Nederlands

Belangstellendes buite die departement se studentepoel kan ook inskryf vir ʼn Nederlandse taalverwerwingskursus (semester-module in die tweede semester) om Nederlands aan te leer met die oog op die internasionale Nederlandse taaleksamen, CNaVT. ʼn Soortgelyke kortleerprogram (KLP/SLP) vir Frans bestaan ook in die dept. Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans.

Die departement is een van enkeles in Suid-Afrika waar studente voorberei word vir die internasionaal erkende eksamen van die Nederlandse Taalunie (Certificaat Nederlands als vreemde taal, CNaVT). Hierdie eksamens word jaarliks in Mei by die departement afgelê en aansoeke sluit jaarliks reeds einde Februarie. Studente (met die nodige taalkompetensie in Nederlands) wat presteer in die tweede- derdejaar en honneursmodules kry ook elke jaar die geleentheid om Nederlandse winterskole in Suid-Afrika en Zomercursussen in Nederland en België by te woon.

Nagraads en kreatiewe skryfkuns

Benewens navorsingsgerigte M.A-verhandelinge en Ph.D.-proefskrifte word ’n gestruktureerde M.A en Ph.D. in Kreatiewe Skryfkuns (onder leiding van twee bekende skrywers, nl. Henning Pieterse en Francois Smith) ook aangebied. Die kreatiewe MA-kursus is gerig op (aspirant-)skrywers en literêre vertalers wat ʼn manuskrip onder deskundige leiding wil voltooi. Hoewel die vernaamste oogmerk hiervan die ontwikkeling van ʼn lewensvatbare en publiseerbare manuskrip is, is dit ook ʼn volledig akademiese kursus waarvoor kandidate teoretiese modules op magistervlak moet slaag. Aansoeke sluit jaarliks 30 Oktober en meer besonderhede is op die dept. webblad te vinde.

Gemeenskapsbetrokkenheid

Die departement is ook trots op die rol wat hy vervul om die Afrikaanse taal en letterkunde en verwante dissiplines tot die Afrikaanse taal en letterkunde vir die breër gemeenskap toeganklik te maak. Twee keer per kwartaal word populêre lesings (normaalweg op ʼn Vrydag om 12:00) deur kundiges ook buite die dept. oor ’n verskeidenheid onderwerpe wat verband hou met die taal- en letterkunde aangebied; personeel vorm aktief deel van die beplanning en aanbieding van veral die literatuurfees tydens die Kunstefees in Julie hier in Bloemfontein. Nederlands-, Duits- en Franstalige filmaande word deurlopend elke maand vertoon.

Die departement beskik oor ’n uitgebreide vriendelys wat gereeld via e-pos inligting en uitnodigings ontvang. Enige persoon wat graag die inligting wil ontvang, kan hul besonderhede deurgee aan mev. Marelize Pretorius, pretoriusm6@ufs.ac.za.

Vir verdere inligting oor enige van die aktiwiteite kan belangstellendes skakel met mev. Ida Meiring, 051 401 2816 of ʼn e-pos stuur aan prof. A van Niekerk: vnieka@ufs.ac.za

In the Media - Afrikaans Version

Afrikaans kan eerste keer wêreldwyd aanlyn aangeleer word

UV se kortkursus bied kans om dit as vreemdetaal binne 20 weke te bemagtig.

Daar is behoefte onder internasionale besoekende studente en buitelandse besoekende dosente en navorsers om Afrikaans magtig te wees. Daarom bied die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans volgens prof Angelique van Niekerk reeds meer as 15 jaar lank kortkursusse vir Afrikaans op kampus aan.

En vanaf Januarie 2018 sal diegene buite die UV-kampus wat Afrikaans wil aanleer dit volledig aanlyn kan doen. Dit is die eerste keer in die geskiedenis dat Afrikaans volledig aanlyn aangeleer kan word. Die kursus is deel van ʼn UV kortleerprogram Gesellig Afrikaans 1 en 2, wat sedert 2007 aan die UV aangebied word. Dit word met die ondersteuning van VivA (Virtuele Instituut vir Afrikaans) aangebied en Afrikaans kan nou wêreldwyd as vreemdetaal aangeleer word.

Behoefte om Afrikaans te praat

Prof Van Niekerk, Hoof van Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, meen daar is byvoorbeeld ’n behoefte om Afrikaans aan te leer vir diegene wat daarmee in kontak kom. “Afrikaans is ʼn omgangstaal in die werkplek, onderwys en sosiale kringe in veral Bloemfontein, die Vrystaat en Suid-Afrika,” sê sy.

’n Gemiddeld van 15 studente per semester skryf vir die bestaande kontakgebaseerde kursus in. Van Niekerk sê hulle kom veral vanaf lande soos Nederland, België, Duitsland, Frankryk, Pole, Lesotho, Zimbabwe en enkeles vanaf die Ooste.

Engels as onderrigmedium gebruik

In 2018 sal die kursus aanlyn (binne 20 weke) via die VivA-webblad of op kampus deur kontaksessies (binne 13 weke) aangeleer kan word. “Die aanlyn kursus vir internasionale studente word nou vir die eerste keer bemark en ons sal in 2018 die eerste keer amptelik internasionale studente buite die UV-grense vir die aanlyn kursus inskryf,” sê prof Van Niekerk.

Die onderrigmedium is Engels, met alle inligting en toeligting wat in Afrikaans en Engels geskied. Ondersteuningsmateriaal soos Afrikaanse films, musiek, uitspraakriglyne en deurlopende selfstudie-assessering maak deel uit van die aanlyn kursusmateriaal.

Klik hier om die aanlyn program se kursusstruktuur te sien.

Rig navrae aan prof Van Niekerk by vnieka@ufs.ac.za, of geselligafrikaans@gmail.com of besoek www.gesellig-afrikaans.org


CONTACT

T: +27 51 401 2240 or humanities@ufs.ac.za

Postgraduate:
Marizanne Cloete: +27 51 401 2592

Undergraduate:
Katlego Mabulana: +27 51 401 2495
Juanita Hlongwane: +27 51 401 3269

Humanities photo next to contact block

We use cookies to make interactions with our websites and services easy and meaningful, to better understand how they are used and to tailor advertising. You can read more and make your cookie choices here. By continuing to use this site you are giving us your consent to do this.

Accept