Latest News Archive

Please select Category, Year, and then Month to display items
Years
2019 2020
Previous Archive

News Archive

DF Malherbe-lesing deur Prof Jakes Gerwel
2004-05-26


 

“Eindes, eindigheid, einders” Gedagtes by NP van Wyk Louw en Karel Schoeman

DF Malherbe-lesing aan die Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, Woensdag 19 Mei 2004 deur Prof Jakes Gerwel.

Prof Jakes Gerwel bekende Afrikaanse skrywer en bekroonde akademikus se toepraak:

Meneer die Rektor, meneer die Dekaan, professor van Coller. Die uitnodiging om die DF Malherbe-gedenklesing te lewer is ‘n groot voorreg.

Ek het baie jare gelede ‘n proefskrif gedoen waarin verbande tussen apekte van die Afrikaanse letterkunde en die ontwikkeling van “kleurverhoudinge” in die Suid-Afrikaanse samelewing ondersoek is. Dit was vir ‘n literaartuursosioloog wat daarop gesteld was om nie die letterkundige teks tot ‘n eenvoudige inhoudelike dokument te reduseer nie ‘n verligting om DF Malherbe se romans vir ontleding beskikbaar te hê.

Voordat daar by Malherbe uitgekom is in daardie ondersoek, was dit vroeëre skrywers soos Jan Louis Cachet, CP Hoogenhout, JHH de Waal, Gideon von Willigh, Melt J Brink en die die bydraeleweraars tot “Ons Klyntji” wat aan bod was. Dit was eenvoudig ‘n vreugde, ‘n ambagsman se vreugde, om onmiddellik daarna met Malherbe te kon werk: teenoor die amper kru direkte aflees van aangebode boodskappe in daardie vroeëre werke, die meer verwikkelde ontleding van konsepsiegewing deur karakterhantering, ruimtelike voorstellings, intrigerol van karakters en ander struktuurmiddels.

As ek self daardie proefskrif moes beoordeel sou dit die gedeeltes oor Malherbe se romans wees wat ek die hoogste sou aanslaan. Vir my was dit in elk geval die gedeelte wat ek die meeste geniet het, as mens van genieting by proefskrif skryf kan praat. Die beeld van gekleurdes in daardie romans is weliswaar patroniserend en dié van te kortskietende wesens; maar die ver-beelding daarvan is intiem in die saamstel van sinne en paragrawe, die interaksie tussen karakters, en veral die samespel tussen karakters en agtergrond geweef. Daardie lees-ontdekking van hoe die landelik-feodale verhoudingspatrone van intimiteit en afstand in die struktuur van die romans ingebed is het my altyd bybgebly en die bestudering van Malherbe een van my beroepshoogtepunte gemaak.

Dankie dat ek op hierdie ompad wyse daaraan erkenning kan gee.

Dames en here, een van die konvensies rondom openbare lesings, naamlik dat mens vroegtydig ‘n titel daarvoor moet hê, kan dalk aanleiding daartoe wees dat ek u mislei het met wat om vanaand van hierdie lesing te verwag. In my eie skryfpogings vir sulke voordragte het ek Van Wyk Louw se vers, “slotreëls is altyd sleutels meer as slotte”, nog altyd baie akkuraat gevind; dis eers met die slotreël van ‘n referaat dat ek die sleutel kry tot wat ek dink ek gesê het, of probeer sê het, en ‘n titel kan prakseer.

Die vroeg-aangegewe titel “Eindes, eindigheid, einders – gedagtes na aanleiding van NP van Wyk Louw en Karel Schoeman” is nie ‘n belofte van ‘n vergelykende eksegese van die twee skrywers nie. Van Wyk Louw en Schoeman is wel die twee Afrikaanse skrywers wat ek die gereeldste herlees en as bronne herbesoek, maar u is vanaand nog ‘n close reading gespaar.

As daar één onderwerp is wat my redelik deurlopend aan die dink hou, is dit oor hoe, tot watter mate en om watter redes Afrikaans, of presieser ‘n leefruimte waarin Afrikaans belangrik en van belang is, in die veranderde en veranderende omstandighede van ons land en wêreld sal bly voortbestaan en groei. En nie net in tel- en meetbare terme nie, maar veral ook in die gehalte van daardie leefruimte. Die afloop en einde van die ou Suid-Afrika, om nou maar daardie snelskrif-beskrywing te gebruik, het implikasies vir die toekomsgehalte van die Afrikaanse leefwêreld, meer en meer diepgaande as vir dié van enige ander ander taal in die land, vermoed ek.

Dis dan dáár rondom, dié voorgestelde mymering oor eindes, eindigheid en einders; en Van Wyl Louw en Schoeman het elkeen wel iets aan te bied oor die onderwerp.

Karel Schoeman se romans is altyd verhale van eindes - sluimerende of naderende eindes, eindes wat bereik word, eindes wat immer te wete is selfs in beginne en aanvange. In ‘n hele aantal van sy romans word die einde van ‘n era in, of gedeelte van, die Afrikaanse leefwêreld voorspellend uitgebeeld, maar die bewustheid van eindigheid is in ieder geval tasbaar aanwesig in al sy werke.

In sy outobiografiese werke is hy nog meer uitdruklik. In een van sy Ierse dagboeke uit 1962 voorspel hy die onafwendbaarheid van einde: “Slegs nou dat ek van uit Ierland terugkyk na Suid-Afrika kan ek hierdie feite goed waardeer. Hoe maklik en grasieus is die lewe van Blankes in Suid-Afrika, met geen skottelgoed, skropborsels, pikke of grawe op die toneel nie. Dit lyk so mooi en helder soos die lewe van die ou herehuise hier in Ierland wat nou verlore gaan te midde van hulle bome of platgeslaan is… Ons lewe is net so statig en net so trots, en dit sal op dieselfde wyse vergaan, want dit is op dieselfde onreg gegrondves… Dit sal ook puin word.”

En hy verduidelik die andersinds vreemde titel van sy onlangse outobiografie, Die laaste Afrikaanse boek, met verwysing na ‘n einde wat nou wel aangebreek het: “Die skryf (van die boek) was vir my ‘n persoonlike onderneming, maar namate die werk vorder, moes ek besef dat dit tewens op onbedoelde wyse uitgegroei het tot rekord van die einde van ‘n era in die geskiedenis van die Afrikaanse taal en kultuur waarvan ek self ‘n produk is en waarvan ek tans ‘n oorlewende en getuie uitmaak.”

Die finale aanbreek van ‘n einde is ook die onmiskenbare en oorheersende teken waarin die Stemme-reeks, die romans waarmee Schoeman sy romanoeuvre tot ‘n einde bring, staan. Die laaste Afrikaanse boek as titel is ‘n sinspeling, ‘n voorspelling, dat daar na hierdie einde nie veel meer te verwagte is nie, altans nie op die wyse en die styl soos voorheen nie.

Van Wyk Louw se kritiese oeuvre het soos dié van weinig ander gedurigdeur oor Afrikaans en sy toekoms gehandel, maar met die nederige wete dat “ons kan leef in oorpeinsing van wat ons ervaar op die twee gebiede wat ál is wat ons toegelaat word om te ken: die verlede en die hede.”

“Oor wát ons taal sal word, of oor wat ván hom sal word,” het hy in dié opstel uit 1959 geskryf, “kan ons dus nie praat nie – behalwe met hartstogtelike verlange.”

In daardie selfde opstel het hy gevra: “Hoe kan mens die verskynsel ‘Afrikaans’ sien?”, en geantwoord: “Op verskeie maniere.”

Hoe kan mens nóú, hier aan die begin van die een-en-twintigste eeu en tien jaar na die onderhandelde politieke omwenteling in Suid-Afrika, die verskynsel Afrikaans sien? Daardie politieke omwenteling het, moet mens onthou, onder andere ‘n paar eeue van blanke oorheersing, en meer ter sake ‘n halfeeu van Afrikaner-oorheersing, tot ‘n einde gebring. Die groei en verfyning van Afrikaans was intiem verbonde aan die politieke posisie van Afrikaners; hoe kyk mens nou na Afrikaans in die radikaal veranderde omstandighede?

As ek deur Van Wyk Louw se ryk en diep opstelle lees, val die beperkte inhoud van die “ons” om wie se onthalwe en met wie hy dikwels praat my op. Hy is nie onbewus van daardie beperktheid nie, spreek dit dikwels aan en waarsku teen die gevare daarvan, maar dit bly kerndeel van hoe hy “die verskynsel ‘Afrikaans’ sien.”

Aan die anderkant: in een van sy vroeë opstelle, Die idee van groot kuns (November 1938), waarsku hy dat onder bepaalde omstandighede “ons in alle eerlikheid ons stryd om die behoud van ons taal (behoort te) staak as ‘n gevaarlike partikularisme, (wat) die Afrikaanse mens in sy geestelike ontwikkeling knel”. Die bepaalde omstandighede is nie onmiddellik relevant vir hierdie gesprek nie; wat belangrik is, is sy herkenning van die moontlikheid van so ‘n “gevaarlike partikularisme” wat by eerlike oorweging die staking van die stryd om behoud van die taal mag noodsaak. Dis ‘n Van Wyk Louw tema, terloops aangeroer en radikaal in sy implikasies, wat miskien nooit genoegsaam opgevolg is nie.

Is daar die moontlikheid dat ons nou binne die konteks van ‘n inklusiewe nasieboupoging in ‘n demokratiese, nie-rassige grondwetlike staat die punt bereik het waar ‘n aandrang op of blote sorg om die behoud en groei van Afrikaans so ‘n “gevaarlike partikularisme” geraak het of mag raak? En dus dat die pogings om die behoud van die taal nou in alle eerlikheid gestaak behoort te word?

Ek wil, gedeeltelik in antwoord op dié vraag, argumenteer dat daar belangrike oorwegings vir die gehele samelewing is vir die bevordering van Afrikaans, of Afrikaanssprekendheid. En gepaard daarmee, dat daardie Afrikaanssprekendheid die inhoud van sy “ons” radikaal moet herdefinieër om insluitend in sy breedste te wees.

In daardie 1959 essay waarna vroeër verwys is het Van Wyk Louw oor uitdagings en moontlikhede vir die taal gepraat; en binne die filosfering gesê: “Ons moet praktiese oplossings vind”. Ek wil vervolgens ‘n paar gedagtes met dié gehoor deel en toets, gedagtes oor uitgangspunte en oor praktiese stappe. Ek het hierdie voorlopige gedagtes met ‘n paar ander mense gedeel en hulle is dus nie heeltemal vars van die pers nie.

Ek wil begin deur te argumenteer dat dit om verskeie redes tot die voordeel van die hele Suid-Afrikaanse samelewing is dat Afrikaans bly voortbestaan, groei en presteer nie net as spreektaal nie maar veral ook as taal van sogenaamde hoër uitdrukkingsfunksies.

Volgehoue groei en lewenskragtigheid in Afrikaans is 'n uiters belangrike komponent in die stukrag agter veeltaligheid, wat een van die grondwaardes in ons grondwetlike en samelewingsvisie is. Misluk Afrikaans en gaan die taal agteruit, word die taaldimensie van sosiale verskeidenheid ernstig ondermyn; en terugskram oor enige aspek van ons diversiteitstrewe is ongesond vir die soort demokrasie en samelewing wat ons hier probeer vestig.

Nasionale versoening en nasiebou is sleutelkenmerke van die Suid-Afrikaanse nasionale prestasie en strewe. Die gesondheid van die Afrikaanse taal en leefwêreld is, gegewe die politieke geskiedenis van die taal, 'n belangrike indeks van hoe goed dit gaan met die interne versoendheid van die Suid-Afrikaanse nasie.

Die gesondheid van Afrikaans is egter nie net 'n gevolg van hoe die taal en sy leefwêreld vanuit owerheidsweë en deur ander behandel en benader word nie; dié gesondheid word ewe belangrik bepaal deur hoe die sprekers en gebruikers van die taal hulself handhaaf as deelnemers aan die onderliggende waardestelsel en definiërende praktyke van die nuwe Suid-Afrika soos beoog in en deur ons Grondwet.

Nie-rassigheid is een van die sleutelwaardes waardeur die nuwe Suid-Afrika onderskei word van die vorige politieke en samelewingsbestel.

Alhoewel vryheid van assosiasie, een van die bepalings in ons handves van regte, sekerlik ook insluit mense se reg om in bepaalde groepsverband te assosieer solank dit nie ander se regte skend nie, bly dinamiese nie-rassigheid die toetssteen om te oordeel oor aanpassing by die gees van die nuwe Suid-Afrika.

Die vraag is in hoe 'n mate die breë wêreld van Afrikaanssprekendheid daardie gees van nie-rassigheid en inklusiwiteit aangeneem het en in praktyk uitleef en dinamies nastreef.

'n Onvermoë van Afrikaanssprekendheid om die veelrassige en multi-kulturele aard van sy sprekerskorps te ontgin, weerspieël en dinamies uit te leef, dien nóg die saak van Afrikaanssprekendheid op die lang termyn, nóg die breër Suid-Afrikaanse samelewing in die pogings om 'n standhoudende nasionale eenheid rondom ons verskeidenheid te bou.

Solank Afrikaanssprekendheid homself in sy dominante uitdrukkingsvorme uitleef as 'n hoofsaaklik "wit onderneming", word sy kanse om 'n plek in die sentrum van die nuwe Suid-Afrika in te neem, ernstig ondermyn en selfs op die lange duur heeltemal vernietig.

'n Indringende en doelgerigte herorïentasie tot inklusiwiteit sal die taal en sy leefwêreld posisioneer as 'n progressiewe en vooruitstrewende krag in Suid-Afrika. So 'n benadering sal die nie-rassigheidstrewe beklemtoon en illustreer, sal die beeld van gedurig na 'n beter lewe in die verlede hunker die nek inslaan, sal as 'n baie sterker aantrekkingskrag dien vir nie-wit sprekers en jong sprekers van alle kleure en kan as dinamiese voorbeeld en inspirasie vir die res van 'n nog te veel ras-bewuste samelewing dien.

Afrikaanssprekendheid is uiteindelik op homself - sy sprekers en instellings - aangewese om vir sy heil om te sien.

Die voorstelling van 'n Suid-Afrikaanse owerheid wat intens vyandiggesind teenoor Afrikaanssprekendheid is, is erg oordrewe. Trouens, daar is 'n merkwaardige gebrek aan antagonisme teenoor 'n taal wie se sentrale rol in die bedryf van apartheid nie ontken kan word nie. Daar is heelwat ruimte geskep of gelaat vir Afrikaanssprekendheid om voort te bestaan en te groei.

Wat wel waar skyn te wees, is die (verstaanbare) gebrek aan aktiewe pogings van die owerheid en andere om Afrikaanssprekendheid te bevorder. Daar is (veelal) op die beste 'n laissez-faire houding en aan die ander kant 'n sentiment wat nie werklik sal omgee as Afrikaanssprekendheid geleidelik ook maar die gees gee nie.

'n Houding of ingesteldheid wat redelik algemeen teengekom word (nie noodwendig amptelik in owerheidskringe nie maar dwarsdeur nie-Afrikaanssprekende geledere), is dié dat Afrikaanssprekendheid histories so gekondisioneer is dat dit amper onlosmaaklik saamhang met politieke, sosiale en kulturele konserwatiwisme en selfs agterlikheid.

Om daadwerklik om te sien na die plek en toekoms van Afrikaanssprekendheid in die nuwe Suid-Afrika moet in dié omstandighede die primêre verantwoordelikheid van Afrikaanse instellings wees.

Die vraag is weer: watter instellings doen dit tans op 'n wyse wat aanpas en inpas by die nuwe Suid-Afrikaanse omstandighede? Of: watter instellings is daar wat dit kan doen?

Daar is op die oomblik geen kragtige nasionale instansie of instelling wat Afrikaanssprekendheid sistematies bevorder oor alle terreine EN dit op 'n doelbewuste en beginsel-gegronde wyse nie-rassig doen nie. So 'n moontlike instelling moet geïdentifiseer word en daar moet in onderhandeling getree word om dit toepaslik te omvorm.

Die "nuwe" Afrikaanse groepe het feitlik sonder uitsondering nie daarin geslaag om nie-rassig nuut Suid-Afrikaans te wees nie, maar daar is wel ouer gevestigde organisasies met infrastruktuur en missies wat met die nodige omvorming so ‘n rol kon speel.

Die voorstel waarmee ek worstel is dat so ‘n instelling geïdentifiseer word en dan deur 'n gepaste groep Afrikaanssprekendes genader word om in onderhandeling te tree oor 'n grondige omvorming van die organisasie tot 'n werklike, tasbare, toonbare nie-rassige platform vir die groei en bevordering van Afrikaanssprekendheid as iets navolgenswaardig in die nuwe Suid-Afrika.

Om suksesvol te wees as 'n nie-rassige poging moet die gesprek met dié organisasie oor "'n onderhandelde rewolusie" gaan en nie gemik wees op "broederlike skikkinkies" nie.

Dit behoort vir almal duidelik te wees dat Afrikaansstrydende, -bevorderende en -bedrywende inisiatiewe oor die algemeen nog nie die grootskaalse inkoop van swart (inklusief bedoel) Afrikaanssprekers kon verkry nie.

Die konsep 'onderhandelde rewolusie' ontleen idiomaties aan die aard van ons verbeeldingryke en -aangrypende politieke verandering in die periode 1990-1994 en daarna. Daar was in daardie politieke oorgang die implisiete aanvaarding dat alle ander sektore van ons samelewing daardie rewolusionêr-vreedsame onderhandelingsmodel sou volg om ons maatskappy nie net polities maar ook sosiaal, kultureel en ekonomies te omvorm tot een van nie-rassigheid, gelykheid, menswaardigheid en vryheid.

Wat mense ookal van F W de Klerk wil sê, daar kan nie daarvan weggeneem word dat hy die onderhandelingstafel geheel en al, dus rewolusionêr, oopgestel het nie. Daardeur het hy die basis gelê vir die deelname van die verteenwoordigers van die swart bevolking en ander progressiewes om deel te neem aan die onderhandelingsproses. Dieselfde basis en uitgangspunt moet vir hierdie voorgestelde onderhandeling gesoek word.

Wat beteken dit in hierdie konteks om 'rewolusionêr te onderhandel'?

Die onderhandelingsgroep moet in konkreet-sigbare terme en in samelewingsperspektief uitdruklik en sonder enige twyfel nie-rassig en progressief wees. Die onderhandelingsagenda moet insgelyks ingrypend-veranderingsgesind wees.

Gevestigde Afrikaanse organisasies het dikwels 'n geskiedenis van pogings tot 'akkommodering' en 'ko-optasie' van anders-denkendes en 'ander-kleuriges'. Enige sweem van 'n voortsetting van daardie neiging sal die poging van meet af aan grondig kelder.

Die span wat die inisiatief dryf moet dus geen twyfel laat oor watter samelewingsagenda gevolg word nie.
Waaroor en op welke wyse onderhandel mens dan?

Die onderhandeling moet uitdruklik gemik wees op transformasie-aspekte. Die bevordering van Afrikaans, maar met inagneming en in die konteks van die nuwe Suid-Afrikaanse omstandighede en imperatiewe, moet vooropstaan in die onderhandelinge.

Aan die einde van die onderhandelinge moet die betrokke instelling voortkom as 'n lewenskragtige, goed-befonsde, wel-bestuurde organisasie wat die vaandeldraer is van 'n nuwe, aktief nie-rassige, progressiewe Afrikaanssprekendheid wat sal omsien na die groei van die taal en taal-leefwêreld.

Meneer die dekaan, ek is bewus van die stylbreuk tussen die meer literêr-besinnende aanhef van die lesing en hierdie laaste organisatories-praktiese gedeelte. Ek het die growwe styl-sonde gepleeg met Van Wyk Louw se woorde in gedagte: “So teoreties? Nee: ons moet praktiese oplossings vind om albei erfenisse van Afrikaans te bewaar.”

Mens sal nie noodwendig vandag daardie twee erfenisse presies definieër soos wat Van Wyk Louw toe in gedagte gehad het nie en, soos reeds aangedui, die inhoud van die “ons” sal nou ook ingrypend anders daar uitsien. Die grondgedagtes van insluiting en vernuwing, en die vermaning dat daar praktiese maniere gevind moet word om daaraan inhoud te gee, bly egter so geldig soos altyd.

Van Wyk Louw praat in daardie selfde opstel daarvan dat “Afrikaans in staat geword het om hierdie nuwe land uit te sê.” En dis vandag waarskynlik ook weer die groot uitdaging, om weë te vind om hierdie nuwe land uit te sê en daardie weë te soek en verken op wyses wat nie grens aan ‘n gevaarlike partikularisme wat die Afrikaanse mens in sy geestelike ontwikkeling sal knel nie.

As Afrikaans en Afrikaanssprekendheid nie tot daardie ruimer bestaan in staat is nie, moet mens dan maar in alle eerlikheid oorweeg om “die stryd om die behoud van die taal te staak”.

Hopelik is die verskynsel Afrikaanssprekendheid nog ver van daardie punt, is die laaste Afrikaanse boek lank nog nie geskryf nie en is die een einde, hoe ingrypend ookal, ‘n opening op verdere einders.

 

   

We use cookies to make interactions with our websites and services easy and meaningful. To better understand how they are used, read more about the UFS cookie policy. By continuing to use this site you are giving us your consent to do this.

Accept