Jongerenprojek uitruilprogram 2019
Uitruilprogram 2019

Refleksie oor my ervaringe op die Jongerenprojek uitruilprogram 2019

Stefan Engelbrecht: Student (Nagraadse Diploma in Teologie- Universiteit van die Vrystaat)


Ongelooflik om te sit en terugdink oor bykans ’n maand se ervaringe, wat grens van kosbare oomblikke saam gasouers wat ons vertel van hul liefde vir Koos du Plessis, Amanda Strydom en Soweto, tot verdwaal op fietse half vyf die oggend in Leuven. Ek kan met oortuiging sê ek het alles beleef!

Die aankoms in Brussel, België was die begin van die verwondering gewees, oor die nuwe interessante tuisland vir die volgende paar dae. Ek kan onthou hoe lank ek gestaar het na al die huise wat uniek en kleurvol langs mekaar ingeskuif was met ons aankoms in Gent. Die uitsig vanuit ons woning oor die Korenlei plein en die Belforttoring, Sint-Baafskatedraal, en Oude Poskantoor toring kan nie in woorde vasgevang word nie.

Ons prentjie van België was binne die eerste paar dae mooi ingekleur deur klasse oor die geskiedenis, geografie, kultuur, kuns, en sosiale konteks van die lae lande aan die Universiteit van Ghent. Ons het ook ’n sjokolade en biertoer meegemaak wat ons ’n meer persoonlike indruk gegee het van die stad, sy geskiedenis en sy sosiale betrekkinge. Ons het die gravensteen kasteel besoek asook die katedrale en torings en plaaslike besienwaardighede. Frites was die eerste egte straatkos wat meeste van ons beproef het, en die egte Belgiese sjokolades het swaar deurgeloop onder sommige van ons. Ek dink terug aan een aand wat ons op die korenlei gesit het en saam ander Belge gesels het oor kultuur verskille tussen Suid-Afrika en België terwyl ons mekaar se onderskeie musiek geluister het.

Ons het volgende na Brussel vertrek vir ’n dag voordat ons na ons onderskeie gasouers gegaan het in Leuven, Brugge en die omringende gebiede. Brussel het ons druk verwelkom met die massas toeriste en lewendige atmosfeer van die 2019 Tour de France vertrekpunt. Ons het die Vlaamse Parlement besoek, en onderweg deur die strate oor die Smurfs en Kuifie “Tintin” se herkoms geleer.

Ek het daarna in Leuven gebly saam my eerste gasouerpaar, wat my en ’n mede-student hartlik verwelkom het met hulle spontane gasvryheid en omgee. Een van die gasouers het ’n webtuiste begin genaamd Hartklop, wat ’n genootskap is met ’n gedeelde hart vir Suid-Afrika en vir die Afrikaanse taal. Die waardering vir Suid-Afrika en sy diverse kultuur wat Afrikaans as ’n vername moedertaal huisves, was duidelik in die harte van die mense. Ons het Leuven asook omringende gebiede van Heverlee verken met fietse en het onder andere, die Oude markt asook Grote Markt, Afrika Museum, Sint-Pieterskerk en Katolieke Universiteit Leuven besoek. Pragtige groen bome, natuurparke, helder waterstrome was baie opmerklik gewees en die fietsrit was ’n wonderlike wyse om die plaaslike landskap te ervaar.

Ons het daarna na Hasselt vertrek, en hier het ons ’n moderne, studentestad ervaar, met strate ingekleur met besonderse muurkuns. Die Bokrijk speeltuin en opelug museum het vir groot pret gesorg onder ons studente, en ons het op ’n prettige wyse baie nuwe goed geleer oor die land en sy geskiedenis. Die aande saam met die gasouers was baie aangenaam en veel stories en grappe was oor en weer gedeel. Ons het ervaar hoe die afstand tussen ons land en die gaslande baie kleiner geword het soos die dae verbygegaan het en veel avontuur nog voorgelê het.

Den Haag was die ingangstad vir die Nederlandse gedeelte van ons reis, en die eens sonnig en warm weer was verruil vir reënbuie, maar die het gou opgeklaar. Ons uitstappie het begin met ’n besoek aan die Tweede Kamer van die State Generaal, wat beslis ’n groot voorreg was. Die Letterkunde museum het ons opnuut ’n waardering en besef gegee van hoe belangrik die koestering van ’n taal is. Den Haag sentraal treinstasie het ons die eerste ervaring gegee van reis met die publieke treinstelsel en ons groepleiers was so verlig as die laastes van die groep soggens aangesluit het voor ons vertrek het na die onderskeie dorpe vir die dag. Ons het goeie kennis gemaak met “overstappen”, metro-treine en trems wat vir heelwat hardloop en oorkruispunte en oomblikke van verwarring gesorg het, maar dit is als deel van die ervaring. Den Haag was een van my gunstelling stede om in te woon, en my gasouers het dit ’n baie spesiale belewenis vir my gemaak by die kusgebied Scheveningen.

Die Universiteit van Leiden was die volgende besienswaardigheid voordat ons die dag afgesluit het met ’n rondleiding deur die Zuid-Afrikahuis Amsterdam en ’n gesellige braai en kuiergeleentheid. Rotterdam het ons ’n baie modieuse, kunstige blik gegee op Stads argitektuur. Die besoek aan die Pauluskerk het ’n indruk op baie van ons gelaat rondom die openbare nood wat steeds aanwesig is in die groot stede. Die Kinderdijk se molens was voorwaar ’n oulike ervaring gewees vir ons Suid-Afrikaners wat net waterbeperkings gewoond is. Amsterdam, oftewel die twee nul, soos mense van Rotterdam daarna verwys het, was die volgende punt op die reis en ons moes op ons hoede wees vir massas fietsryers wat die lewe van die strate was.

Om ’n musiekfees by te woon in die vondelpark, laat ’n mens werklik soos ’n inwoner van Amsterdam voel, en die werkswinkel aan die Bijlmerparkteater het ons energie getoets en ons in voeling gebring met die kreatiewe Nederlandse kunste. Die besoek aan die Universiteit van Amsterdam was intellektueel stimulerend en ’n gesprek rondom die huidige stand van Nederlands as akademiese taal het baie nuwe insigte rondom die erns van taal blootgelê. In die stad Amsterdam, was kuns oral sigbaar maar om Rembrandt en Vermeer se werke in die Rijksmuseum te sien is besonders. Die vaartog van Monnickendam na Amsterdam op die seilskip “Dankbaarheid” was uitsonderlik lekker gewees, en ons kon as groep werklik Nederland op ’n ander wyse verken terwyl ons heerlike Nederlandse kos en spontane samesyn ingeneem het.

Die laaste paar dae is deurgebring in Otterlo op ’n plaas, met veel diere en oop groen velde. Die rondleiding deur Kamp Amersfoort het weereens die belang wat geskiedkundige terreine vervul benadruk. Die fietsrit deur die Hoge Veluwe Nasionale Park het vir veel grappighede gesorg asook ’n pragtige uitsig van die landskap. Die Kröller-Müller Museum se rondleiding het ons verbeeldings ingekleur met die werke van Van Gogh en ander bekroonde kunstenaars. Dit was baie kosbaar om die laaste paar aande saam te kon deurbring op die plaas en goeie herinneringe deel en aande saam gesels aan die groot etenstafel of langs die kampvuur. En so het 20dae verbygevlieg en moes ons ons tasse pak en huiswaarts keer, met baie speculaas, en kosbare herinneringe wat altyd in die hart vasgevang sal bly.

Die Jongerenprojek is ’n kosbare geleentheid om werklik soveel van die kultuur van die Nederland en Vlaandere in te neem en te beleef hoe die taalbande met Suid-Afrika baie nouer lê as wat jy voorheen gedink het. Dit kweek opnuut ’n waardering vir die kulturele erfenis en is iets wat mens nie ten volle kan begryp as jy nog nie daar was nie.

Ek wil graag ook my dank uitspreek aan die bepaalde instansies wat die ervaring moontlik gemaak het: Die Stichting Zuid-Afrikahuis Nederland, en die Vlaams Zuid-Afrikaanse Cultuurstichting vir al die tyd en aandag wat spandeer is aan die organisering van die geleentheid, asook die ongelooflike geleentheid wat gebied word aan Suid-Afrikaanse studente. Die Departement van Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat vir die uitnodiging en finansiële steun rondom my aansoek en Die Afrikaanse Taal en Kultuur Vereniging vir hul finansiële steun.

Ek wil verder persoonlik dankie sê aan die volgende persone: Frank Judo, Tim Snel, Laura Engels, Bernard Slaa, Sophie van Putten-Velthuizen, Peter de Graaf en Lex de Jongh vir die reëlings en ongelooflike program wat vir ons voorberei is.

16 Aug 2019


CONTACT

T: +27 51 401 2240 or humanities@ufs.ac.za

Postgraduate:
Marizanne Cloete: +27 51 401 2592

Undergraduate:
Katlego Mabulana: +27 51 401 2495
Juanita Hlongwane: +27 51 401 3269

Humanities photo next to contact block

We use cookies to make interactions with our websites and services easy and meaningful, to better understand how they are used and to tailor advertising. You can read more and make your cookie choices here. By continuing to use this site you are giving us your consent to do this.

Accept