ERELIDMAATSKAP VAN DIE SA AKADEMIE

aan prof JC Steyn

Huldigingswoord: Me Alana Bailey (gelewer deur prof WJ Pienaar)

Erelidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns word aan professor JC Steyn toegeken op grond van die reuse-omvang, veelsydigheid en gehalte van sy bydraes tot Afrikaanse letterkunde, taalwetenskap, geskiedenis, kultuurgeskiedenis, asook verskeie ander taalverwante terreine. Professor Steyn het reeds die volgende toekennings van die akademie ontvang:

  • Die Eugène Maraisprys vir Die grammatika van liefhê;
  • Die Stalsprys vir geskiedwetenskappe vir Van Wyk Louw – ’n lewensverhaal;
  • Die Louis Hiemstraprys vir nie-fiksie vir Die honderd jaar van MER;
  • Die CJ Langenhovenprys vir taalwetenskap; 
  • Die NP van Wyk Louw-medalje vir die volgehoue uitbouing van vertakkings van die geesteswetenskappe, en
  • Die Elisabeth Eybersbeurs.

Sy loopbaan as onder meer joernalis, dosent en navorser het aan hom die geleentheid gebied om sy kennis en passie vir Afrikaans op vele wyses uit te bou en met ander te deel.

Die nominasie word ook gedoen in die lig van die onlangsste werk uit sy pen, naamlik ‘Ons gaan ’n taal maak’ - Afrikaans sedert die Patriot-jare. Hierdie werk is die verstommende resultaat van jarelange navorsing oor die wordingsgeskiedenis van Afrikaans sedert 1875 tot vandag.

Met hierdie werk en sy ander publikasies, het prof Steyn plaaslik, maar ook in die buiteland, die unieke kultuurgeskiedenis van Afrikaans gedokumenteer en op hoogs wetenskaplike dog uiters leesbare wyse aan die publiek beskikbaar gemaak.

Tesame met sy skeppende letterkundige werk, bou professor Steyn aan ’n Afrikaanse nalatenskap van ’n unieke aard en is dit gepas dat hy as erelid deur die Akademie hiervoor erken word. Meneer die voorsitter, ek versoek u nou om die erelidmaatskap aan prof JC Steyn toe te ken.
 

Pretoria

Oktober 2015


CONTACT

T: +27 51 401 2240 or humanities@ufs.ac.za

Postgraduate:
Marizanne Cloete: +27 51 401 2592

Undergraduate:
Katlego Mabulana: +27 51 401 2495
Juanita Hlongwane: +27 51 401 3269

Humanities photo next to contact block

We use cookies to make interactions with our websites and services easy and meaningful, to better understand how they are used and to tailor advertising. You can read more and make your cookie choices here. By continuing to use this site you are giving us your consent to do this.

Accept