Afrikaans as universiteitsvak (GUK, UKOVS, UOVS, UV)
Die Grey-universiteitskollege (GUK) het in 1904 tot stand gekom terwyl die Vrystaat nog 'n Britse kolonie was ("Orange River Colony") en Engels die enigste amptelike taal. Dit was ook die eksamentaal van die University of the Cape of Good Hope, die liggaam wat bepaalde skooleksamens soos die matriekeksamen en die eksamens van al die Suid-Afrikaanse universiteitskolleges afgeneem het.
Dit is dus te verstaan dat Engels aanvanklik die enigste voertaal aan die GUK was. Nederlands was egter reeds van die begin af een van die vakke wat die kollege gedoseer het. Die eerste rektor, dr Johannes Brill, was een van die vroeë taalgeleerdes wat daarop gewys het dat Afrikaans nie 'n foutiewe Nederlands of 'n veragtelike dialek is nie, maar net soos ander tale volgens normale taalwette ontstaan het. Dit het hy gedoen in 'n lesing wat hy in Mei 1875 in Bloemfontein gehou het. Hy het Afrikaans, en nie Nederlands nie, beskou as die volkstaal van die Afrikaanstaliges. Die lesing het die taalstryders, wat later daardie jaar die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) gestig het, in hul oortuigings gesterk.
Ook prof Adriaan Francken, B.A., wat aanvanklik Nederlands, Duits en geskiedenis aan die GUK moes doseer, het bande met die taalbeweging gehad. Hy was in 1907 een van die stigters van die vereniging Onze Taal in Bloemfontein en in 1909 een van die Vrystaatse verteenwoordigers by die taalkongres in Bloemfontein waarop die Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst gestig is.
In 1910 het hy die hulp gekry van dr DF Malherbe, wat toe aangestel is as professor in moderne tale, wat Nederlands, Duits, Frans en Germaanse filologie ingesluit het. Malherbe was toe reeds bekend as een van die jong geleerdes wat hulle vir die erkenning van Afrikaans as kultuurtaal beywer het. Sy voordrag getitel "Is Afrikaans ’n dialekt?" – op 12 Oktober 1906 gelewer voor 'n groot gehoor op die Engels-georiënteerde Wellington – het van hom een van die intellektuele leiers van die taalbeweging gemaak. Hy het 'n sterk pleidooi vir Afrikaans as skryftaal gelewer.
Dit sou egter nog tot 1919 duur voordat Afrikaans een van die vakke aan die GUK kon word. In 1918 het die universiteitswese in Suid-Afrika verander met die totstandkoming van die Universiteite van Stellenbosch, Kaapstad en Suid-Afrika. Die GUK was (soos onder meer die latere Universiteit van Pretoria) een van die samestellende kolleges van die Universiteit van Suid-Afrika. Die GUK-raad het op 6 September 1918 besluit om 'n professoraat in Afrikaans in te stel. Die registrateur het Malherbe die pos op 9 September 1918 aangebied. Die Universiteit Stellenbosch het 'n paar weke daarna 'n soortgelyke besluit geneem en JJ Smith aangestel.
Afrikaans was van 1919 tot 1921 deel van die vak Nederlands; volgens die 1919-jaarboek was dit "'n aanvullende vak vir Nederlands".
In 1922 het die vaknaam verander na Hollands en so het dit gebly tot 1949. Bo-aan die leerplan vir Nederlands staan in 1922: "'Hollands' omvat zowel Afrikaans als Nederlands".
Die naam van die vak het daarna weer verander: in 1950 Afrikaans en Nederlands (hoewel in die graadregulasies nog Hollands), van 1951 tot 1970 Afrikaans-Nederlands en van 1971 af Afrikaans en Nederlands.
Afrikaans het volgens Malherbe "'n populariteit geniet" wat "soms lastig kan word vir 'n dosent". Hy het in Die Volksblad van 29 November 1923 geskryf dat die vak getuie was "van 'n sterk toenemende skaar van studente wat uit beroepsoorweginge of weëns vereistes van leerplanregulasies of eindelik – en dit is 'n verblydende teken in ons uniwersitêre ewolusie – uit suiwer persoonlike liefhebbery die Afrikaanse klasse met voorbeeldige besieling binnegestroom het".
Malherbe was by die publiek veral bekend as digter en skrywer van romans soos Die meulenaar (1926) en Hans-die-Skipper (1929). Van Oktober 1928 tot Junie 1929 was hy waarnemende rektor en van Junie 1929 tot Junie 1934 rektor van die GUK. Die meeste vakke is in Engels aangebied en Malherbe was die aanvoerder van 'n minderheidsgroep senaatslede wat hulle vir die gelyke behandeling van Afrikaans en Engels as onderrigtaal beywer het. In die jare veertig het dit 'n stryd geword vir die verafrikaansing van die Universiteitskollege van die Oranje-Vrystaat (UKOVS), die naam wat die kollege in April 1935 gekry het.
Onder die medestryders vir Afrikaans was prof H van der Merwe Scholtz, wat gepromoveer het aan die Rijksuniversiteit van Utrecht en in 1927 aangestel is as lektor en in 1931 as professor in Nederlands aan die GUK. In 1931 en 1932 was die digter en romanskrywer CM van den Heever ook dosent, daarna ook ’n literatuurhistorikus, Elizabeth Conradie en toe Benedictus Kok, een van Malherbe se oudstudente in taalkunde, wat sy doktoraaleksamen aan die Rijksuniversiteit van Utrecht geslaag en in Suid-Afrika sy doktorsgraad behaal het.
Malherbe het aan die einde van 1941 afgetree en is in 1942 as departementshoof opgevolg deur Kok. In 1943 het die vak drie dosente gehad: Scholtz, Kok en WJ (Wessel) Badenhorst. In 1946 is Scholtz as rektor aangestel en onder hom het UKOVS ’n Afrikaanse kollege en in 1950 ’n Afrikaanse universiteit (die UOVS) geword.
In die 1950’s en vroeë 1960’s het Afrikaans-Nederlands vyf dosente gehad: Kok, wat departementshoof was, Badenhorst (Nederlands), die dramaturg Gerhard Beukes, die letterkundige FV Lategan, wat ook verbonde was aan die Onderwyserskollege en FIJ van Rensburg. In 1967 het Kok rektor geword en is Van Rensburg as professor na die pas gestigte Randse Afrikaanse Universiteit (tans Universiteit van Johannesburg).
Kok is as departementshoof opgevolg deur Badenhorst (1967-1972), hý deur Beukes (1973-1978) en daarna C van Heerden in 1979.
Die twee dekades tot omstreeks 1990 was goeie jare vir die Departement. Verskeie dosente is aangestel en die projekte wat party van hulle aangepak het, het baie vir die aansien van die Departement beteken.
Iemand wat ’n groot bydrae tot hierdie groei gelewer het, was prof WL (Wynand) Mouton wat van 1976 tot 1988 rektor was. Sy aanstelling was ’n mylpaal in die geskiedenis van die UOVS. Hy het navorsing kragtig bevorder en vir die eerste keer het dosente assistente gekry.
Die latere departementshoofde is proff JH Senekal (1980 – 1982), MCJ van Rensburg (1982 – 1988), HP (Hennie) van Coller (1989-2014), Angelique van Niekerk (2015-2023) en Francois Smith (sedert 2024). Van Coller is een van die produktiefste Afrikaanse letterkundiges in die land en is die skrywer van o.a. die digbundel Soom (2012) en twee bundels literêre opstelle, Tussenkoms en Tussenstand. Hy is ook redakteur van Perspektief en profiel en van 'n Nederlandse literatuurgeskiedenis vir Suid-Afrikaanse universiteite.
Die skrywer en letterkundige, Charles Malan, was ‘n dinamiese dosent, wat ‘n groot invloed op jong studente uitgeoefen het.
Nog 'n bekende wat in die 1980’s aan die Departement verbonde was, is die digter Daniel Hugo. Agt van sy digbundels het tydens sy UOVS-jare verskyn.
Onder Christo van Rensburg het taalkunde-navorsing ’n bloeitydperk beleef. Hy was aan die hoof van ’n RGN-ondersoek na Oranjerivier-Afrikaans en Oosgrens-Afrikaans. Hy en Mouton het gesorg dat prof JC Steyn van die RAU aangestel word as navorser. In dié hoedanigheid kon hy onder meer biografieë skryf van NP van Wyk Louw, MER en Piet Cillié, oudredakteur van Die Burger.
Ander dosente was proff Johan Lubbe, wat later hoof van die Departement Algemene Taalwetenskap geword het, Gert van Jaarsveld, Louis Venter, Dolf van Zuydam en Theo du Plessis, dr Andries Klopper, Louis van Eeden en André Viviers. In 2010 het die personeelkorps bestaan uit proff Hennie Van Coller, Alf Jenkinson en Bernard Odendaal (wie se digbundel Onbedoelde land in 2007 verskyn het), drr Angelique van Niekerk (tans professor), Annette de Wet, Anthea van Jaarsveld, Mathilda de Beer, Corlietha Swart, Irma Loock en Burgert Senekal. Irma Loock, Annette de Wet, Burgert Senekal en Anthea van Jaarsveld is sedertdien na ander departemente oorgeplaas, Mathilda de Beer en Corlietha Swart het die diens van die universiteit verlaat en prof Hennie van Coller het aan die einde van 2014 afgetree. Sedert 2015 is dr Francois Smith, skrywer van die bekroonde roman Kamphoer, aan die departement verbonde en vanaf 2016 is die veelbekroonde en welbekende prof Henning Pieterse ook deel van die personeelkorps. In 2018 het dr Mathildie Smit en Alison Stander by die departement aangesluit.
Afrikaans en Nederlands vorm sedert 1998, saam met Duits en Frans, die uitgebreide Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans. Die hoof van afdeling Frans is prof Naòmi Morgan, met dr Albertus Barkhuizen as kollega, en die hoof van afdeling Duits is Prof Cilliers van den Berg (met twee doktorsgrade – in Duits en in Nederlands) en dr Trudie Strauss is tans sy kollega. By albei laasgenoemde afdelings het akademici van formaat (bv. prof Klaus von Delft, Ingrid Smuts, prof Hannes Joubert en Eugene Visagie) diep spore getrap. Die naam van die Universiteit het in die 1990’s verander na Universiteit van die Vrystaat.