elik uitgenooi na ’n populêre lesing aangebied deur die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat.
Act, Ek’t, Ekke: Klara du Plessis se Transtalige Poëtika
SPREKER: Dr Klara du Plessis, University of British Columbia (Okanagan)
Datum: Vrydag 3 Oktober 2025
Tyd: 12:00-13:00
Plek: FGG201
OPSOMMING
Om afstand te doen van die tweedeling tussen eentaligheid en veeltaligheid, verkies die kritikus Sarah Dowling die term “translingual” of transtaligheid omdat dit die vermoë het om tale met mekaar te laat kommunikeer, om tale mekaar te laat beïnvloed en te transformeer (Translingual Poetics). Deur transtaligheid as 'n digterlike raamwerk te aanvaar wat 'n verkenning van die verhoudings tussen tale moontlik maak, skryf Klara du Plessis poësie in en tussen Engels en Afrikaans. Haar bekroonde debuutbundel, Ekke (2018), is beskryf as “a participant in and an interrogator of systems of meaning” (DeLong, “Equivalence, Excess, Ekke”). Haar bundel, G (2023)—geskryf saam met Khashayar "Kess" Mohammadi—wend homofone aan om Persies tussen Engels en Afrikaans in te weef, die beduidende verhouding tussen tale te bevestig en arbitrêre grense van taalkundige nasionaliteit te weerstaan. Mees onlangs het Du Plessis haar eerste Suid-Afrikaanse, tweetalige bundel Ek't Act (2025) gepubliseer. Soos die titel aandui, beklemtoon dit 'n tematiese spanning tussen identiteit, aan die een kant, en vertolking en opvoering aan die ander kant. Dit vra: Hoe resoneer die poëtiese spreker oor tale, landskappe en liggame heen? Wat is die verhouding tussen transtaligheid, rolspel en outentisiteit?
OOR DIE SPREKER
Klara du Plessis is bekend vir haar bydraes tot langvorm- en transtalige digkuns. Ek’t Act (Karavan Press, 2025) is haar Suid-Afrikaanse debuutbundel, maar sy het al vier ander bundels in Kanada uitgegee. Ekke (Palimpsest Press, 2018) is bekroon met die 2019 Pat Lowther Memorial Award wat jaarliks toegeken word aan die beste bundel deur ’n vrou in Kanada. Ekke en G (Palimpsest Press, 2023)—’n samewerking met Khashayar “Kess” Mohammadi wat Afrikaans, Engels en Persies in transtalige vergelyking tot mekaar stel—is plaaslik by Poetry In McGregor, Tuin van Digters, Vrystaat Kunstefees en Woordfees bekendgestel. Dié bundels is ook met lof in Die Beeld en op LitNet geresenseer. ’n Keur van Klara se gedigte verskyn in Alfred Schaffer se Nederlandse vertaling in DW B se “Stemmen uit Zuid-Afrika”-uitgawe (2024). Klara is besig met postdoktorale studie aan die University of British Columbia. Sy woon in Montreal en vir dele van die jaar in Kaapstad.
RSVP
Petronella Bango
E: BangoPJ@ufs.ac.za