Populêre lesingreeks: Die Dept. Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans in samewerking met die dept. Filosofie (UV) bied ongeveer een keer per maand so ’n populêre en informele lesing aan.
Uitnodigings geskied via die webblad en die dept. se verspreidingslys. Kontak ons gerus op e-pos via die UV-webblad indien jy die uitnodigings wil ontvang.
Prof. Jerzy Koch 12 Februarie 2016
Prof. Jerzy Koch, dosent in Nederlandse koloniale literatuur, Suid-Afrikaanse Engelse en Afrikaanse letterkunde aan universiteite in Pole en navorsingsgenoot van Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans (UV) neem deel aan ʼn vraaggesprek met dr. Francois Smith oor Koch se pasverskene "A History of South African Literature: Afrikaans Literature 17th–19th centuries".
Henning Pieterse oor Franse digter, Michel Houellebecq
Die betekenis en funksie van poëtiese intertekste in die romans van
Daar is talle intertekste in die romans van Michel Houellebecq – filosofies (Comte, Schopenhauer, Nietzsche, ens.), natuurwetenskaplik (Bohr, Einstein, Planck, ens.), visueel-artisties (Koons, Hirst, ens.), polities en literêr (RL Stevenson, Agatha Christie, Balzac, Molière, Kafka, Goethe, De Musset, Huysmans, ens.), om ‘n paar tipes te noem. Dit is nie verbasend dat Houellebecq, as digter, verskeie poëtiese intertekste in sy prosa sal “plant” nie. Die leser vind verwysings na veral Baudelaire, Houellebecq se digterlike “vader”, en ook onder meer na Kleist, Breton en Lautréamont. Dan is daar talle voorbeelde van intratekstuele verwysings na Houellebecq se eie poësie uit sy vier gepubliseerde bundels, La poursuite du bonheur (Die strewe na geluk), Le sens du combat (Die sin van die stryd), Renaissance en Configuration du dernier rivage (Konfigurasie van die laaste oewer). Verskeie passasies in Les particules élémentaires (vertaal as Atomised), La possibilité d’une île (vertaal as The possibility of an island) en La carte et le territoire (vertaal as The map and the territory), verwys, op hul beurt, na spesifieke gedigte van Houellebecq in terme van konsonante karakters en karakteriserings, milieus, idees en temas, wat lei tot ‘n simbiotiese verhouding tussen en lesing van Houellebecq se poësie en prosa.
‘n Navorser soos Delphine Grass (2010) het al kommentaar gelewer oor die poëtiese kwaliteite van Houellebecq se prosa, maar die betekenis en funksie van spesifieke poëtiese intertekste in sy romans is nog nie behoorlik ondersoek nie. Die doel van hierdie lesing is dan om die twee “tale van styl en vorme en van vorm en genre” in Houellebecq se roman-oeuvre, naamlik die verhouding tussen poësie en prosa en die moontlike betekenisse en funksies van die digterlike intertekste in sy prosa, te ondersoek. Gedigte deur die naamlose verteller en twee karakters en Boeddhistiese tekste in Les particules, Nostradamus-tipe kwatryne en rap-reëls in La possibilité en liedlirieke en selfverwysende digterlike aanhalings in La carte word geanaliseer met betrekking tot hul moontlike betekenisse en funksies in terme van karakterisering en plotkomposisie van die tersaaklike romans.
Prof Pieter Duvenage, Departement Filosofie, Universiteit van die Vrystaat
In hierdie bydrae (en boekbekendstelling) praat Pieter Duvenage oor sy pasverskene boek Afrikaanse filosofie: Perspektiewe en dialoë.
Datum: 8 April 2016
Tyd: 12:10-13:00
Plek: FGG 183
In hierdie bydrae (en boekbekendstelling) praat Pieter Duvenage oor sy pasverskene boek Afrikaanse filosofie: Perspektiewe en dialoë.
Hierdie publikasie poog om iets op kaart te bring wat tot op hede ontbreek, naamlik perspektief op, interpretasie en kombinasie van dialoë oor die verskynsel of fenomeen van Afrikaanse filosofie wat die afgelope 100 jaar in Suid-Afrika ontstaan het en steeds lewenskrag toon.
Dit is interessant dat, wanneer dit by die Afrikaanse letterkunde kom, daar 'n omvangryke lys van figure, fassinerende werke en historiese bakens is. Dit is egter nie die geval met die verskynsel van Afrikaanse filosofie nie. Hoewel name soos Stoker, Versfeld en Degenaar en hulle wysgerige werke bepaalde staanplek in die Afrikaanse openbare lewe verwerf het, het Afrikaanse filosofie tot 'n groot mate ondergrondse tradisie gebly - dog een wat die moeite loon om na vore te bring omdat die invloed daarvan in onverwagte en verrassende rigtings neerslag gevind het.
Die boek sal ook by die geleentheid teen 'n spesiale prys van R250 (in die handel R340) beskikbaar wees.
Prof. Koos Malan
Detail: 13 Mei 2016, Die moontlikheid van ʼn post-staatlike konstitusionalisme?
Konstitusionalisme het ʼn tweeledige kern. Eerstens versinnebeeld dit die soeke na geregtigheid. Tweedens impliseer dit magsewewig. Geregtigheid beoog ʼn gelukkige lewe deur die erkenning en selfverwesenliking van almal – elke individu en elke gemeenskap. Geregtigheid kan nouliks in ʼn chaotiese toestand, waarin eie reg geld, verwesenlik word. Derhalwe is ʼn regsorde met gepaardgaande gesag noodsaaklik. Ongekontroleerde gesag kan egter verval na ʼn toestand van chaos se teenoorgestelde, naamlik buitensporige magskonsentrasie in die hande van slegs een sektor in die samelewing wat onbeteueld tot eie voordeel en ander se nadeel optree. Wanneer dit gebeur, is geregtigheid – die eerste wesenlike element van die konstitusionele idee - daarmee heen. Juis daarom is konstitusionalisme se noodsaaklike tweede been ʼn stelsel van magsewewig wat daarop gemik is om oormatige magskonsentrasie te verhoed en, ten slotte, om geregtigheid te verwesenlik.
Die moderne territoriale staat is vir die afgelope nagenoeg 350 jaar die dominante politiek-konstitusionele struktuur. Juis vanweë sy dominansie het die territoriale staat egter ook belangrike intellektuele – meer bepaald “wetenskaplike” – implikasies, aangesien dit ʼn paradigma vir ons denkarbeid oor die politiek, staatsreg en trouens alle aangeleenthede van ʼn openbare aard gedefinieer en begrens het. Dit begrens onder andere die wyse waarop ons konstitusionalisme as juis verengde staatlike konstitusionalisme konseptualiseer.
Staatlike konstitusionalisme het dikwels verreikende nadelige implikasies aangesien dit nie daarin slaag om magsewewig te bewerkstellig nie, met verwoestende gevolge vir die verwesenliking van geregtigheid, veral vir gemeenskappe binne ʼn kultureel en andersins heterogene samelewing. Die kern-swakheid van konstitusionalisme, soos kragtens die staatlike paradigma gekonseptualiseer, is enersyds dat dit geskoei is op die denkbeeld van die abstrakte individu en andersyds op die gesentraliseerde staat (met onverdeelbare soewereiniteit). Dit verhoed ʼn ewewigtige konstitusie aangesien alle samelewingsverbande, met inbegrip van die universiteit, uiteindelik verstaatlik. In so ’n konstitusie kan grondwetlike wigte en teenwigte ten slotte uiters swak, indien nie blote skyn word nie, en kan geregtigheid moeilik realiseer.
Hierdie gebrekkige konstitusionele model is, nadat dit ook elders in die wêreld met nadelige gevolge volstrek toegepas is, tans besig om Suid-Afrika toenemend te teister. Daar is egter ook die belofte van ʼn konstitusionalisme anderkant die staatlike paradigma en anderkant staatlike konstitusionalisme, wat ons juis nou in Suid-Afrika dringend moet oorweeg – ʼn post-staatlike konstitusionalisme wat ook die universiteit anders bedink.
Hennie van Coller
Detail: 24 Junie 2016: Die nuutste uitgawe van Perspektief en Profiel. 'n Gesprek tussen prof. Hennie van Coller en dr. Anthea van Jaarsveld.
Prof. Van Coller is 'n navorsingsgenoot van die departement Afrikaans, Nederlands, Duits en Frans aan die UV en redakteur van die jongste uitgawe van Perspektief en Profiel. 'n Afrikaanse Literatuurgeskiedenis en dr. Van Jaarsveld is senior lektor in die departement.
Temas wat ter sprake sal kom tydens hierdie gesprek is onder andere die kwessie van literatuur-geskiedskrywing, die ontwikkelende aard van Perspektief en Profiel, kanonisering asook die regverdiging van 'n spesifiek Afrikaanse literatuurgeskiedenis binne die huidige Suid-Afrikaanse werklikheid.
Annebelle Smit en kollegas, dr Francois Smith oor Adam Small
Detail: Die departement Afrikaans en Nederlands, Frans en Duits nooi u vriendelik uit na die Adam Small-gedenklesing.
Drama-uittreksel en ’n bespreking deur Annebelle Smit en voorlesings uit Small se werk.
Datum: 12 Augustus 2016
Tyd: 12:00
Lokaal: UV, Bloemfonteinkampus, EBW ALG7
The department Afrikaans and Dutch, French and German cordially invites you to attend the memorial lecture on Adam Small.
Part of a drama production and a discussion by Annebelle Smit and readings from Small’s work.
Date: 12 August 2016
Time: 12:00
Venue: UFS, Bloemfontein campus, EBW ALG7
Theo du Plessis: Die realisering van inklusiewe en billike gehalte-onderwys in Suid-Afrika – bydraes en struikelblokke wat betref taal in die onderwys”.
Oktober 2016:
Teen die agtergrond van onderwyshervorminge in Suid-Afrika sedert 1994 bied hierdie voordrag ʼn oorsig oor taal in die onderwys en enkele hoogtepunte wat betref die vernaamste prestasies en uitdagings. As een van die terreine van die anti-apartheidstryd, is die onderwys oor die laaste twee dekades dramaties getransformeer van ʼn hoogs uitsluitende ras- en etno-linguisties gebaseerde stelsel tot ʼn inklusiewe opset, geïnspireer deur die ideale van regstelling, gelykheid en sosiale kohesie. Suid-Afrika se Nasionale Onderwyswet van 1996 word spesifiek gerig op “the advancement and protection” van die reg “of every person to basic education and equal access to education institutions”, ideale wat aan een van die Verenigde Nasies se Sustainable Development Goals (SDG) verbind kan word. Die voordrag bied ʼn oorsig wat handel met Suid-Afrika se tweeledige benadering tot taal in die onderwys, een wat grootliks konsentreer op taal-in-die-onderwys beleid en taal-in-die-kurrikulum as twee uiteenlopende en byna onverwante vraagstukke.