Nederlandse Winterskool 2025
‘Nederlandse Winterschool in de vakantie – beslist de moeite waard’
Gedurende die Julievakansie het twee studente van die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, van die Universiteit van die Vrystaat, naamlik Tanya Kruger en Marita Oosthuizen van 6 – 12 Julie die nasionale Nederlandse Winterschool in Hartenbos bygewoon. Hierdie tweejaarlikse geleentheid bied ’n besondere ervaring vir studente wat in Nederlands belangstel en uitblink.
Onder leiding van Dr Karin van Lierop (Universiteit van Kaapstad, Dr Joris Geelen (HAN University of Applied Sciences) en Gonneke Groenen (Noordwes-Universiteit) is daar interaktiewe klasse aangebied oor grammatika, poësie, migranteliteratuur, kultuur en selfs musiek.
’n Hoogtepunt van die week was die (tweede) Nederlandse Taalwedstrijd, waarin deelnemers ’n betoog geskryf en voorgedra het. Marita Oosthuizen van die Universiteit van die Vrystaat het pas in Mei haar eerste CNaVT-eksamen met groot sukses geslaag en was een van die twee wenners van dié taalwedstrijd in 2025. Daarmee het sy nou die geleentheid te beurt geval het om Suid-Afrika in die finale rondte in Nederland in Oktober 2025 te gaan verteenwoordig en teen finaliste van ander lande mee te ding (onder meer uit China en Duitsland).
Marita oordeel dat die Winterschool nie net ’n akademiese verryking is nie, maar ook ’n geleentheid bied om taalentoesiaste van oor die land te ontmoet en nuwe vriendskappe te bou. Dit is iets wat sy vir elke student in hul derdejaar in Afrikaans en Nederlands gun.