Afrikaanse Weergawe
Prof JC Steyn
Met hierdie bydrae huldig die kollegas en oudkollegas in die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans ons kollega en navorsingsgenoot prof Jaap Steyn as mens, taalvakman, kultuurhistorikus en kreatiewe skrywer.
Prof Jaap Steyn se kollegas het nie net ʼn kollegiale verbintenis met hom gehad nie, maar ook ʼn vriendskaplike verhouding. Ons vier dus ook prof Jaap Steyn se bydrae in Afrikaans en sy nalatenskap as mens.
Jacob Cornelius Steyn se verbintenis met die UV strek oor vele dekades. Hy begin sy studie in 1956 aan die UOVS en daarna volg ʼn loopbaan in die joernalistiek. Sy vermoë om Afrikaans as taalinstrument in te span is verfyn as redaksielid van Die Volksblad (1959-1964) en hoofredaksielid van Rapport (1974-1975). Hy sit sy nagraadse studie (1964-1967) in die Nederlande voort en behaal ʼn Drs. Litt. Cum laude aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam. Hy het in 1985 teruggekeer na die UOVS.
ʼn Kreatiewe fase het (tussen 1975 en 1991) gevolg. In die tyd verskyn die bundel Grammatika van liefhê – ʼn bundel in vernufpoësie en verskeie prosawerke, bv. Die verlore vader, Hoeke boerseuns ons was, ens.
(Prof) Jaap Steyn se besorgdheid spesifiek wat minderheidstale betref, blyk uit die verskyning van die boek Tuiste in eie taal (1980). Naas vier monografieë verskyn daar net meer as tagtig geakkrediteerde artikels in vaktydskrifte uit sy pen.
Aan die einde van sy akademiese loopbaan het (prof) Jaap Steyn hom onderskei as biograaf met die biografieë van onder andere NP van Wyk Louw en MER toe hy ʼn ereprofessor van die dept. Afrikaans en Nederlands aan die UV was.
Prof Jaap Steyn se lewenswerk getuig van verskeidenheid en ʼn liefde en passie vir Afrikaans, die taal waarin hy ʼn magdom prestasies behaal het.
Prof KUT von Delft
Prof Klaus von Delft, gewaardeerde oud-kollega van Afdeling Duits is op Saterdag 28 Augustus 2021 oorlede. Ons eer sy nagedagtenis. Lees meer hier.
Elsa Joubert – 'n huldiging
Elsa Joubert, wat op 14 Junie 2020 in die ouderdom van 97 aan COVID-19-verwante oorsake oorlede is, was een van die Afrikaanse letterkunde se heel grotes. Internasionaal is sy veral bekend om haar roman Die swerfjare van Poppie Nongena (1978), wat toe dit in 1974 as vervolgverhaal in die Sondagkoerant Rapport verskyn het, vir talle wit Afrikaanssprekendes die eerste blootstelling was aan die lewe aan die ander kant van die apartheidsbestel se rigiede kleurskeidslyn. Hierdie roman oor die ’n eenvoudige swart vrou se hartverskeurende stryd om ’n plek te kry wat sy haar eie kon noem, is in 2002 ingesluit in Ali Mazrui se invloedryke lys van die 100 Beste Afrikaboeke van die 20ste Eeu, en vanjaar het Christaain Olwagen se filmweergawe daavan ook groot opslae gemaak. Dit kom nadat dit omtrent al wat Suid-Afrikaanse letterkundeprys is gewen het, in tientalle tale vertaal is en in die 1980’s as verhoogstuk in feitlik elke wêreldstad staande ovasies gekry het.
Afrika het Joubert gefassineer en haar eerste werke was reisverhale waarin sy haar verkenning van die kontinent en sy mense weergegee het. Kort voor haar dood het haar laaste werk verskyn, Spertyd, waarin sy ons almal as’t ware voorloop in die reis na die Groot Onbekende. Haar fiksiedebuut, die novelle Ons wag op die kaptein (1963), was in 1982 my voorgeskrewe boek in matriek. Dit het ’n geweldige indruk op my gemaak, en nou nog onthou ek daardie swoel Afrikasfeer, die spanning tussen die protagonis Ana-Paula en haar Portugeuse man, Carlos, en daardie slot waarin die kaptein met die helikopter neerdaal en almal verwilderd aan ’n traliehek vasklou en niemand weet “hierdie hand is swart en hierdie een is wit nie”. Ek onthou ook hoe grondig ongelukkig ek was, nou nog is, oor die standaardkritiek van daardie tyd, klakkeloos herhaal in die besprekingsnotas wat ons by ons onderwyser gekry het, dat daardie slot se deus ex machina-aard die novelle se groot swakheid was.
Ek het haar persoonlik leer ken toe ek die redakteur was van twee van haar outobiografiese werke, ’n Wonderlike geweld (2005) en Reisiger (2009). Soms het ek ’n laatmiddag-whiskey by haar gaan drink in haar woonstel in die aftree-oord Berghof in Kaapstad waar sy tot met haar dood gewoon het. Sy het twee woonstelle weerskante van ’n gang gehad, die een met boekrakke wat tot die plafon gereik het en die ander met ’n groot venster waarin jy kon afkyk op ’n welige, ligdeurstraalde tuin. Ek onthou een verhaal wat sy my in die boekegedeelte van haar woning vertel het, seker toe ons aan ’n Wonderlike geweld gewerk het, want dit gaan oor haar grootwordjare in die Paarl. Dit is egter ’n storie wat, sover ek kan onthou, nie in die boek opgeneem is nie. Dit gaan oor hoe lief Paarliete vir hul dorp is, hoe ekstreem lojaal, en die hooffiguur hierin is ’n tante van Elsa wat baie siek was, so siek dat die familie laat kom is om afskeid te neem. Maar daar waar die familie om die sterwensbed bymekaar was, maak die tante ’n mirakelagtige terugkeer en dit blyk toe dat sy die tipiese nadoodse ervaring gehad het, daardie verblindende lig, die engelkore, die strate wat met juwele geplavei is, de lot. En iemand sê toe: “Ai, tant Maggie, dit moes darem maar báie mooi gewees het.” En tant Maggie (as dit haar naam was) sê met ’n week stemmetjie: “Jaaaa ... maar dis darem nie die Paarl nie.”
Francois Smith – dosent by Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans (UV)
Luister na die RSG-huldigingsdokumentêr: MP3