Jerzy Koch lewer eerste lesing van akademiese jaar in Pole

Prof Jerzy Koch, navorsingsgenoot van die Universiteit van die Vrystaat, is uitgenooi om die eerste lesing te gee by die feestelike opening van die nuwe akademiese jaar aan die Universiteit Wrocław (UWr) waar hy tussen 1985-2011 gewerk het. Prof Koch is nou professor aan die Adam Mickiewicz Universiteit in Poznań (UAM). Die titel van die lesing was “Oor die pedagogiek van angs, la gaya scienza, poësie en grense van kennis – enkele woorde aan die jong mense by die begin van die akademiese jaar”. 

Prof Koch het aanvanklik oor sy jarelange verbintenis met UWr gepraat waar hy studeer het, oor die studentestakings ’81 wat hy mede-georganiseer het en oor sy politieke betrokkenheid wat sy aanstelling as wetenskaplike medewerker met enkele jare vertraag het. Hierdie agtergrond was die inleiding  tot sy motiveringstoespraak waarin hy jong mense uitgenooi het om hul studietyd volledig te geniet en te benut. Kennis is belangrik, maar die mees essensiële is volgens Koch dat jong mense krities en selfstandig begin dink – dis die hoofdoel van studie, ongeag die spesifieke studierigting of -profiel. Verder het hy hom op die ou Nederlandse term “sociabiliteit” beroep wat nie net na persoonlike deug verwys nie, maar ook na die behoefte om betrokke te raak, te sosialiseer en vertroue te wek in die samelewing.

Prof Koch het van sy eie vertalings voorgelees van die Vlaamse digter Miriam Van hee en die Afrikaanse digters Antjie Krog en Breyten Breytenbach. Kyk gerus na die lesing in Pools hier.   

 

Leon van Nierop se lesing oor rolprent- en televisieresensies

IMG_6325

Die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) was gasheer vir Leon van Nierop, een van Suid-Afrika se bekendste film- en boekresensente en draaiboekskrywers, tydens die vierde lesing in vanjaar se gewilde lesingreeks.

Van Nierop, wat ook ’n romanskrywer, radioskrywer, vryskutjoernalis en wenner van verskeie toekennings en pryse is, het die lesing op Vrydag 11 Augustus gelewer as deel van die departement se openbare lesingreeks. 

Die skrywer van onder meer Wolwedans in die Skemer – die Afrikaanse radiodrama wat later ’n rolprent geword het – en die televisiereeks Ballade vir ’n Enkeling, wat ook in ’n film verwerk is, het insigte en ervarings met ’n gehoor van ongeveer 30 teenwoordiges bestaande uit lede van die publiek, personeel en senior studente op die UV se Bloemfontein-kampus gedeel.

“As vryskutwerker moet jy omtrent agt verskillende dinge goed kan doen – met oortuiging en met liefde,” het Van Nierop oor sy roemryke loopbaan gesê.

Die impak van alledaagse ervarings

Hy het staaltjies gedeel oor alledaagse ervarings wat dikwels as inspirasie gedien het vir die rubrieke wat hy geskryf het en vir ander werk tydens sy 48 jaar in die bedryf.

Een van sy grootste inspirasies was ’n ou dame in ’n township wat begin huil het ná ’n aanbieding oor filmontleding. Toe sy gevra is waarom sy huil, het sy gesê, “Ek huil oor alles wat ek nie geweet het nie en wat jy my geleer het.” “Uit daardie terugvoer het ek drie boeke geskryf,” het hy gesê.

“Wees altyd wawyd wakker, want stories is oral om ons. Ek kry die meeste van die stories uit wat daagliks met my gebeur.”

“Die ou boer op die vliegtuig wat my gevra het om te bid toe die vliegtuig weens erge turbulensie nie kon land nie, het lewe gegee aan ’n karakter in ’n roman wat oor ’n paar weke vrygestel word. En iets wat bygedra het tot ’n rubriek wat ek geskryf het, was die een boer wat vir die ander boer sê, ‘Dis vandag so koud, ek dra sommer twee kortbroeke.’”

“Alles wat met my gebeur het ’n uitvloeisel in my werk,” het Van Nierop gesê.

Skryf vir almal

Hy glo ook as ’n mens rolprente resenseer, moet jy die vrymoedigheid hê om vir verskillende gehore op verskeie platforms te skryf. “Daar sal altyd mense wees wat van ’n fliek of boek hou wat jy as kritikus nie geniet nie. Jy moet ook vir hulle skryf.”

“Dit is boonop belangrik om jou gehoor te verstaan en nuwe invalshoeke te vind, veral as jy die 18de resensie oor dieselfde film skryf. En, soos Katinka Heyns, Suid-Afrikaanse aktrise, rolprentmaker en regisseur vir my gesê het, moenie verlief raak op die natuurskoon en vergeet van die mense in die storie nie.”

Deur die filmproses van Ballade vir ’n Enkeling as voorbeeld te gebruik, het Van Nierop sy oortuiging geïllustreer dat daar verskeie instrumente tot ’n mens se beskikking is om ’n storie doeltreffend te vertel. Dit behels aspekte soos kamerawerk, die regte persoon in die regte rol, en om toepaslike voorwerpe in die stelontwerp te inkorporeer.



Simposium oor vreemdetaal-aanleer

20230608103351_IMG_5924
Die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, in samewerking met ander taaldepartemente aan die UV, het op 8 en 9 Junie ’n nasionale simposium aangebied  gefokus het op die aanleer van vreemdetaal binne die Suid-Afrikaanse konteks. 
Vir meer inligting, klik hier.
 

Tjeggiese besoekers

Czech2
Czech1
’n Groep van 15 Tjeggiese studente het onlangs die UV besoek en Dr Mathilda Smit het vir hulle ’n lesing aangebied oor “Afrikaans in the spotlight”.  Die groep het die lesing, sowel as hul besoek aan Bloemfontein baie geniet.

Litnet-kompetisie  
20180211_121023

Dr Joanita Erasmus-Alt word aangewys as Litnet se wenner van die My gebeurtenis van die jaar 2022-kompetisie.  Haar inskrywing, Kontrapunt, handel oor die datum waarop die digter Sheila Cussons 100 jaar oud sou word.  Baie geluk Joanita.

 


Fakulteitkontakte

T: +27 51 401 2240 of humanities@ufs.ac.za

Nagraads:
Marica Coetsee: +27 51 401 2369

Voorgraads:

Katlego Mabulana: +27 51 401 2495
Juanita Hlongwane: +27 51 401 3269

Humanities photo next to contact block