Antjie Krog

Antjie Krog ontvang Nederlandse prys vir haar bydrae tot Nederlandse kultuur

(Inligting van en erkenning aan Litnet)

Foto deur Antonia Steyn

Human & Rousseau en NB-Uitgewers is verheug om te verneem dat Antjie Krog die pas afgelope naweek vereer is met die 2018 Gouden Ganzenveer.

De Gouden Ganzenveer is ’n kulturele prys wat jaarliks in Nederland toegeken word aan ’n persoon of instituut ter verering van hul bydrae tot die geskrewe en gedrukte woord in die Nederlandse taal. Dié prys word vanjaar vir die eerste keer aan iemand van buite Nederland en België toegeken. In 2017 is dit toegeken aan die bekroonde romansier Arnon Grunberg.

Gerdi Verbeet, voorsitter van die Akademie van die Gouden Ganzenveer, het die nuus op die Nederlandse radioprogram De Taalstaat bekendgemaak: “Die Akademie van die Gouden Ganzenveer eer Krog as ’n spesiale en veelsydige digter, as ’n uitsonderlike skrywer en joernalis van integriteit, en as ’n begaafde kunstenaar van haar eie werk.”

Eloise Wessels, besturende direkteur van Media24-Boeke en hoof van NB-Uitgewers, het die nuus verwelkom. “Dit is vir ons as Krog se uitgewer eweneens wonderlike nuus – ons is saam met haar trots en bly.”

Joost Nijsen, Krog se Nederlandse uitgewer by Podium, meen dat die entoesiasme vir haar werk bogemiddeld groot moet wees vir die Akademie om ’n uitsondering te maak vir ’n “buitelandse” outeur. “Ons het hier by Podium op die tafel gespring toe ons dit gehoor het. Nie alleen is die Gouden Ganzenveer waarskynlik die mees gesogte literêre prys in Nederland nie, maar dit is bowendien uniek dat die prys toegeken word aan ’n nie-Nederlandse skrywer.”

De Gouden Ganzenveer sal op 19 April tydens ’n geleentheid in Amsterdam aan Krog oorhandig word. “Ek is verbysterd en op ’n vreemde manier tog ook ontroerd,” het sy gesê in reaksie op die nuus. “Dit is ook uitermate heerlik dat 'n taal en letterkunde deur wie mens self so veel en diep verryk is, voel dat daar nie net gevat is nie, maar ook iets van waarde terug gegee is.”

Krog se jongste publikasies sluit in:

Lady Anne: A Chronicle in Verse (2017, Human & Rousseau), ’n vertaling van die oorspronklike uitgawe van Lady Anne in 1989

Mede-wete (2014, Human & Rousseau), asook die vertaling Synapse, deur Karen Press

Mede-wete is onder meer bekroon met die Elisabeth Eybers-prys (2015), die ATKV-Woordveertjieprys vir poësie (2015) en ook die Hertzog-prys vir poësie (2017). Medeweten is in Nederlands uitgegee deur Podium, en Remo Campert sê onder meer in de Volkskrant die volgende: “Lees de hele bundel Medeweten. Dan zult u het hopelijk met me eens zijn dat Antjie Krog Nobelprijs-waardig is.”

Potgooi van die gesprek op 'Skrywers en boeke'.

November 2017

Ilse Salzwedel gesels met prof Wannie Carstens, die mede-skrywer van ONS KOM VAN VER AF en DIE STORIE VAN AFRIKAANS,deel 1. Albei boeke dokumenteer belangrike inligting oor ons taal. In sy interessante bydrae oor die internasionale boekewêreld gesels Johan Myburg onder meer oor Duitsland se hardop-voorleesdag, en hoekom dit gevier word.

http://www.rsg.co.za/images/upload/sound/klanke/20171122_SKRYWERS_EN_BOEKE.mp3


Verslag van die slypskool vir die Nasionale Poort-skryfwedstryd van 2017.

Hierdie slypskool word ná afloop van die Poort-skryfwedstryd jaarliks aangebied deur die departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat in samewerking met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns wat die slypskool volledig borg. Tydens hierdie slypskole tree bekende skrywers as aanbieders op. Vorige skrywers sluit onder andere in, Christine Barkhuizen le Roux, Jaco Jacobs, Alexander Strachan, Hennie van Coller, Heilna du Plooy, Irma Joubert, Hans du Plessis en Bernard Odendaal. ‘n Diverse groep leerders van oor die land woon hierdie slypskool by. Dit wissel gewoonlik van graad 11 leerders tot eerstejaar student. Hierdie groepe van oor die hele Suid-Afrika, is die room van ons land se jong skrywers.

Dit slypskool wat in 2017 aangebied is, onder die leiding van die bekende skrywer Alexander Strachan en die digter-akademiekus, prof. H.P. van Coller was uiters geslaagd. Alexander Strachan was verantwoordelik vir die aanbied van die prosa-werkswinkel en Hennie van Coller was verantwoordelik vir die poësie-werkswinkel. Die leerders se terugvoer getuig deurgaans van ’n uiters positiewe ingesteldheid teenoor die spesifieke formaat van die slypskool. Die besondere waarde van hierdie slypskool lê juis in die feit dat die deelnemers ruim tyd gegun word om op ’n persoonlike een-tot-een-basis met die skrywers, hulle werk te kan bespreek. Die waarde van praktiese werksessies waarin deelnemers aan hul eie werk kan skaaf met die hulp van die skrywer is deurgaans deur die leerders bevestig. As afsluiting van die slypskool, is daar van die leerders verwag om ʼn nuwe skryfstuk in te handig vir beoordeling wat vanjaar beoordeel is deur die bekende Hertzogpryswenner, Henning Pieterse. Hierdie tweede rondte van prysoorhandiging is goed aanvaar aangesien die deelnemers gevoel het dat dit as verdere aansporing dien, maar ook as bevestiging van die waarde van aspirant-skrywers se direkte kontak met skrywers en digters in die bedryf.

Die boekpryse vir die 2017-slypskool is weer eens geborg deur Protea-boekhuis wat hierdie slypskool altyd goedgesind is. Ons waardering gaan ook uit na die Akademie vir hul jaarlikse ruim ondersteuning waarsonder hierdie slypskool nie moontlik sal wees nie. 2017 het weer ‘n uiters geslaagde slypskool opgelewer. Ek sluit af met die finale wen-skryfstukke deur drie van die bekroonde deelnemers na afloop van die slypskool.

Geluk aan elke deelnemer. Julle entoesiasme en die erns wat julle maak met ons taal is aansteeklik. Mag elkeen van julle se deelname help om ons pragtige taal van krag tot krag te laat gaan. Sterkte met julle skryfloopbaan en lekker skryf tot ‘n volgende keer.

Baie dankie.

Dr. Anthea van Jaarsveld

(Organiseerder)


Wenner Prosa – Nina du Preez

DIS ‘N LEË KOSKAS, SKAT.

Negentien jaar gelede het Gerrie de Wet,’n jong soldaat, ‘n pas-gegradueerde kok van Prue Leith School of Cuisine die eerste keer gewaar. In ‘n klein kafee in die middestad, oor ‘n stomende beker Belgiese sjokolade, het hy haar sit en dophou.

Vandag sit Gerrie met 3 gesondheidskwale, twee kinders en een vrou wat nooit ophou kook nie.

LUUKSE WARM SJOKOLADE

Theresa de Wet is ‘n vrygewige vrou. Sy het ‘n groot hart en ‘n groter kombuis. Hendrietta Jacoba van Wyk Louw was ‘n ou varsity vriendin wat saam met Theresa in kookskool was. Sy het glo vir twintig jaar na sy en Theresa graadgevang het, die wêreld se mees eksotiese lande en hul kosse verken. Alhoewel elke tafeldoek in al 2560 van haar kos foto’s dieselfde lyk. Sy was egter nou moeg vir reis. Of so vertel sy vir haar volgelinge op InstaFood.

Toe Theresa hoor dat haar ou koshuis kennis terug keer na haar moederland, het sy gretig vir die tannie “ons gastekamer” aangebied.

“Waar gaan ék slaap?” het ek verslae vir Moeder Theresa gevra. Dit het my verstand te bowe gegaan. Dat ‘n Ma haar eie kind by die hondehok sal inboender om ‘n bed vir ‘n vreemdeling te verseker.

“Net totdat Julia haar voete vind,” het Ma simpatiek oor ‘n bord hoender lasagne ons gerus gestel. “Dis tog nie asof sy ‘n vreemdeling is nie. Sy het al kom kuier. En ons Skype elke Kersfees.”

HOENDER LASAGNE

“Ja, maar sy het die vorige keer toe sy hier was al die fudge vir die Kesta kinderhuis fondsinsameling op ge-‘proe’,” lewer Jan-Willem kommentaar.

“Die arme vrou was voos van die honger!” Verdedig Ma die skuldige party.

GEKLEURDE KLAPPERYS

Dis die dag na Hendrietta Jacoba van Wyk Louw se aankoms by die De Wet huis. Die huis is vir die eerste keer in ses-en-dertig ure stil. Tannie Hettie snork saggies op die LazyBoy. Ons gebruik dié tot ons voordeel en raak in die kombuis doenig. Ek en Ma is beide lief vir kook. Die flambojante styl van Franse-en-Italiaanse kookkuns is herkenbaar in elke dis wat ons voorsit. Vandag maak ons Franse sjokoladetert. Karen Zoid sing in die agtergrond. Ma meng die sjokoladeinhoud in ‘n pot. Ek skei eiers.

“‘n Koskenner,” glimlag Ma na ek oplet dat die vrou wat onder by donskombers slaap sebra lycra dra.

“Ek hou nie van haar nie.”

Ek breek vererg ‘n eier. Skei die embrio van sy jellie lagie. Ma wieg heen en weer op maat van die musiek. Neurie Karen Zoid. Sy lyk ontspanne.

FRANSE SJOKOLADE KOEK

Daardie aand sit die De Wet gesit en tannie Hettie om die eikehouteetkamertafel. ‘n Pop-up skottelgoed stad het staanplek in die vlekvrye staal wasbak gevind. Pavarotti sing in die agtergrond. Ma se bloedrooi lippe is op ‘n streep. Sy is de-moer in. Tannie Hettie (“Noem my Hettie, vir hettie selfbeheer nie.”) sit, botstil met Ma se gunsteling poedinglepel in haar ronde vuis toegevou. En staar voor haar uit. Pa kyk verdwaas na die mollige dame, Franse sjokoladekoek op haar skoot gebalanseer. Wilhelm se blik sou karringmelk laat styf staan. En ek glimlag innerlik. Steek my hand in my baadjiesak. My hand vou om die klein leë papier pakkie. CHOKING HAZARD! Lees die Silica gel se verpakking.

“Ek dink ons moet maar tannie Hettie se familie in kennis stel.” Pa stoot sy stoel agteruit. Staan op. “Kom Wilhelm.” Die mans verdwyn uit die kamer uit.

Pavarotti is stil. Ma is spierwit. Tannie Hettie is ‘n vreemde skakering blou. Binne in die poedingbak glim die klein silica sfere in die dowwe eetkamer lig.


Wenner Poësie – Brigitte Geyer

Ek en die ander Aanmoedigingsprys - Nina Jacobson


Verslag Slypskool Poort Wedstryd 2017

Voor vlnr: Milé Pienaar, Nina du Preez, Annelene Groenewald
Middel vlnr: Ursula Thomashoff, Nina Jacobson, Ni-Mari Smith, Brigitte Geyer
Agter vlnr: Prof Hennie van Coller, Christiaan Minnie, Andries Meyer, Lara van der Merwe, Alexander Strachan


Verslag Slypskool Poort Wedstryd 2017

Vlnr: Ni-Mari Smith, Milé Pienaar, Brigitte Geyer, Ursula Thomashoff, Nina Jacobson


Verslag Slypskool Poort Wedstryd 2017

Vlnr: Christiaan Minnie, Andries Meyer, Lara van der Merwe, Nina du Preez, Annelene Groenewald


Verslag Slypskool Poort Wedstryd 2017

Vlnr: Brigitte Geyer (wenner Poësie), Nina du Preez (wenner Prosa), Nina Jacobson (aanmoedingingsprys)

Kongresdeelname haal die Belgiese pers

Tydens ‘n onlangse kongres in Louvain-la-Neuve, België, oor Tintin/Kuifie in die 21ste eeu, het prof N Morgan van die Afdeling Frans deelgeneem aan ‘n tafelrondegesprek oor die voor- en nadele van die vertaling in Afrikaans van Tintin au Congo/Kuifie in die Kongo. Die Belgiese koerant Le Soir het groot belangstelling getoon in Human & Rousseau se besluit om nie hierdie album in Afrikaans te vertaal nie.


Fakulteitkontakte

T: +27 51 401 2240 of humanities@ufs.ac.za

Nagraads:
Marica Coetsee: +27 51 401 2369

Voorgraads:

Katlego Mabulana: +27 51 401 2495
Juanita Hlongwane: +27 51 401 3269

Humanities photo next to contact block