Verskille tussen historikus en romanskrywer ondersoek
Irma Joubert, gesoute skrywer van historiese romans, was die spreker tydens die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans se tweede populêre lesing vir 2018.
Die onderwerp Die grens tussen feit en fiksie handel oor die verskille, asook ooreenkomste tussen die kreatiewe skrywer en die geskiedkundige, en hoe hulle hul afsonderlike skryftake aanpak. Joubert het ook gefokus op die manier waarop sy as skrywer historiese feite in haar boeke gebruik.
Die departement het hierdie lesing op 13 April 2018 op die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Bloemfontein-kampus aangebied.
Romanskrywer moet emotiewe uitbeeld
“Ek was eintlik maar net ’n juffrou wat verskriklik baie van geskiedenis gehou het en toe eendag begin skryf het. En al wat ek wil doen, is om ’n stuk geskiedenis wat my aangryp, aan lesers oor te dra,” sê Joubert.
Die geskiedskrywer en historiese romanskrywer maak van presies dieselfde bronne gebruik. Die belangrikste primêre bronne behels dagboekinskrywings, briewe en berigte wat in daardie tyd verskyn het, asook ooggetuies se verslae. Mondelinge bronne is vir die historiese romanskywer van meer belang as vir die geskiedkundige omdat die stories, die emotiewe en die belewenisse hier ter sprake is.
“Die taalgebruik moet die tydsgees vasvang; waar die geskiedskrywer onbetrokke, maar toeganklike taal gebruik, moet die romanskrywer die emotiewe uitbring,” sê sy.
Korrekte terminologie van belang
“As romanskrywer glo ek dat die plekke besoek moet word,” sê Joubert. "Dit is vir sowel die geskiedkundige as romanskrywer belangrik om die plekke te besoek waaroor hulle skryf.”
Terminologie moet ook korrek wees. ’n Voorbeeld wat Joubert genoem het, is dat daar in die 1950’s nie van polio gepraat is nie, maar van kinderverlamming. Die leser moet dus die gevoel van daardie tyd kry.
Beskrywing speel ’n belangrike rol, daarom moet daar gekyk word na wat mense in daardie tyd geëet het, wat hulle aangetrek het, asook die lewensomstandighede.
Vir die historikus is dit belangrik om die waarheid so duidelik moontlik weer te gee, terwyl fiksie vir die romanskrywer die heel belangrikste is, maar die storie bly dieselfde. “Die geskiedkundige teken feite aan en interpreteer dit en die romanskrywer soek na iets meer,” sê Joubert.