Die aanleer van ’n nuwe taal is ’n opwindende en verrykende ervaring. Dit is ook ’n belegging vir die toekoms. ’n Goeie kennis van Duits kan jou ’n voorsprong gee in die wêreld van:

  • Internasionale en Konstitusionele Reg
  • Internasionale Handel en Ekonomie
  • Diplomatieke Dienste en Buitelandse Sake
  • Wetenskap en Tegnologie
  • Kommunikasie en Joernalistiek
  • Vertaling en Tolkwerk
  • Filosofie en Teologie
  • Musiek en Kuns
  • Toerisme en Reis

Duits is die moedertaal van meer as 100 miljoen mense en is oor grense heen die mees algemeen gesproke taal in Europa. Naas Engels is Duits die taal wat in die Westerse wêreld die meeste op die internet gebruik word. Die Duitse kultuur is sinoniem met invloedryke figure soos Goethe, Kafka, Kant, Hegel, Bach, Beethoven, Mozart, Freud en Einstein. ‘n Kennis van Duits verbreed jou perspektief op die wêreld en gee jou terselfdertyd ’n beter begrip van jou eie samelewing, taal en kultuur. 

Vir studente of akademici wat graag hul studies aan ’n universiteit in ’n Duitssprekende land wil voortsit of navorsing in Duitsland wil doen, is ’n kursus in Duits onontbeerlik.

Die Afdeling Duits aan die UV bied kursusse in die Duitse taal, kultuur en literatuur van die beginnersvlak tot op nagraadse vlak aan. Studente uit enige studierigting is welkom om Duits te neem. Jy kan Duits kies as ’n komponent van ’n BA-program, ’n program in Mediastudies of in Musiek. Duits as bykomende keusevak is egter ook waardevol in studierigtings soos Ekonomiese Bestuurswetenskappe, Regsgeleerdheid, Teologie, Filosofie, Argitektuur, Kuns, Politieke Wetenskap en die Natuurwetenskappe.

Vir die beginnerskursus (GERB1514 en GERB1524) is geen voorkennis van Duits nodig nie. Die klem is op die verwerwing en ontwikkeling van Duitse taalvaardighede om basiese gesproke en geskrewe Duits in alledaagse situasies te gebruik.

In die Duitse taal- en kultuurstudiemodules (eerste- tot derdejaarsvlak) word ’n kommunikatiewe inter-kulturele benadering gevolg. Die kursusse dek ’n wye reeks onderwerpe en sluit ook aspekte van Besigheidsduits in. Duitse taalvaardighede word geleidelik tot op ’n gevorderde vlak ontwikkel en studente verkry ’n dieper insig in die leefwêreld, kultuur en literatuur van die Duitssprekende lande en die mense wat daarin woon.

Die Duitse taalkursusse volg die riglyne van die 'Common European Framework of Reference for Languages'. Studente het dan ook die geleentheid om die internasionaal erkende Duitse taaleksamens van die Goethe-Institut, Zertifikat Deutsch (B1) en die Goethe-Prüfungen B2 en C1 by die Afdeling Duits aan die UV af te lê.

(Belangstellende studente uit enige studierigting is welkom om in te skryf vir die beginnerskursus of vir modules uit enige van die ander kursusse.)

Kontak ons gerus vir navrae (+27 51 401 2242) ten opsigte van Duits aan die Universiteit van die Vrystaat.


Fakulteitkontakte

T: +27 51 401 2240 of humanities@ufs.ac.za

Nagraads:
Marica Coetsee: +27 51 401 2369

Voorgraads:

Katlego Mabulana: +27 51 401 2495
Juanita Hlongwane: +27 51 401 3269

Humanities photo next to contact block