Karel Schoeman

Karel Schoeman is op 26 Oktober 1939 op Trompsburg in die Vrystaat gebore waar sy ouers ’n hotel bedryf het. Toe hy drie jaar oud is, skei sy ouers en gaan hy saam met sy ma in die Paarl woon. Hy voltooi sy skoolopleiding in 1956 aan die Hoër Jongenskool in die Paarl. In 1959 behaal hy ’n B.A.-graad aan die destydse Universiteit van die Oranje-Vrystaat, met die hoofvakke Engels, Afrikaans en Nederlands. In dieselfde jaar verander hy van kerkverband en word Rooms-Katoliek. Daarna studeer hy aan die Katolieke Seminarium in Pretoria, ter voorbereiding vir die priesterskap in die Franciskaanse Orde. Teen die einde van 1961 vertrek hy na Ierland, waar hy wel die novisiaat in Killarney en Galway deurloop, maar ook uiteindelik besluit teen ’n monnike-leefwyse.

Hierdie verblyf in die buiteland was slegs die begin van vele verdere verblyfbesluite. Hy keer in 1964 na Bloemfontein terug om ’n Hoër Diploma in Biblioteekkunde aan die UOVS te verwerf. Agtereenvolgens sou hy in Johannesburg, Amsterdam en Glasgow werk (waar hy as verpleër opgelei word en byna drie jaar lank verpleging doen). In 1967 keer hy terug na Suid-Afrika, werk in Pretoria, Bloemfontein en Kaapstad voordat hy uiteindelik op Trompsburg aftree. Ná ’n tydlange verblyf op sy geboortedorp is hy tot met sy dood op 1 Mei 2017, in die aftree-oord Noorderbloem in Bloemfontein, woonagtig.

Hy woon ’n tyd lank in Europa, o.m. in Amsterdam (1968 - 1973) waar hy in ’n biblioteek werk en in Glasgow (1974 - 1976) waar hy as verpleër werk. Sy omswerwinge neem hom selfs na die eiland Kreta. Teen die einde van 1976 keer hy weer na Suid-Afrika terug. Hy werk aanvanklik in Pretoria as ’n vertaler. Van 1977 tot 1981 werk hy by die Vrystaatse Biblioteekdiens in Bloemfontein en daarna in Kaapstad by die Suid-Afrikaanse Biblioteek.

Schoeman debuteer in 1965 in Afrikaans met Veldslag, twee novelles ineen: die titelverhaal en In ballingskap. Hierná sou meer as 130 boektitels volg: romans, dramas, verdere novelles, historiese romans, biografiese werke en nie-fiksie werke waarin verskeie disiplines aan die bod kom. Hy was ook die redakteur van die Vrijstatia-reeks en het veskeie SA studies geskryf. In 1996 publiseer hy ’n keur uit die fotografiese versameling van die Suid-Afrikaanse Biblioteek, onder die titel, The face of the country.

Alhoewel Schoeman eintlik bekendheid verwerf as prosaskrywer van veral romans en novelles, het hy ook talle verwerkings en vertalings gedoen van o.m. dramas soos Friedrich Schiller se Maria Stuart, Anton Chechov se Die kersieboord en Herman Heijermans se Op hoop van seën. ’n Aantal televisiereekse verskyn uit sy pen, o.m. Besoek; Die Somerpaleis en Die jare. Hy verwerk ook etlike Ierse legendes in Afrikaans.

Schoeman is verder veral bekend as navorser van formaat en as kenner van die historiese Bloemfontein en die Vrystaatse argitektuur, soos blyk uit publikasies soos: Bloemfontein: Die ontstaan van ’n stad (1846-1946); Die dood van ’n Engelsman en Vrystaatse Erfenis.

Hy is ook redakteur van die Vrijstatia-reeks, wat handel oor die negentiende-eeuse Vrystaatse geskiedenis.

Met sy skeppende skryfwerk sluit Schoeman aan by die tradisie en styl van skrywers soos Jan van Melle en C.M. van den Heever. Wat sy romans en novelles betref, word hy as een van die belangrikste skrywers ná 1960 beskou. Die temas waaroor hy skryf, sluit egter aan by dié van sy tydgenote. Hy slaag daarin om die tipiese outsider-figuur of introverte karakter binne ’n bepaalde omgewing te situeer, o.m. in Na die geliefde land; By fakkellig en Hierdie lewe. Hy debuteer in 1965 met twee novelles in die bundel Veldslag. Beide Veldslag en In ballingskap handel oor die ontwrigting wat die Anglo-Boereoorlog meegebring het. ’n Ander tema wat hy by herhaling in sy romans verken, is die gekompliseerdheid van menslike verhoudings en die verwydering wat onbegrip tussen mense tot gevolg het, soos in By Fakkellig; Spiraal; Op ’n eiland; Na die geliefde land en ook in Hierdie lewe.

Schoeman is reeds in 1972 bekroon met die CNA-prys vir Na die geliefde land, en later vir Hierdie Lewe, asook met die W.A. Hofmeyr-prys vir ’n Ander land (1985), die Recht Malan-prys vir Vrystaatse Erfenis (1983), Dogter van Sion (1998) en Armosyn van die Kaap (2002).

Hy kry die Hertzogprys drie keer, nl. vir By fakkellig; ’n Lug vol helder wolke en Spiraal in (1970), vir ’n Ander land in 1984 en vir Hierdie lewe in 1995.

In 2003 word sy outobiografie, Die laaste Afrikaanse boek, bekroon met die Recht Malan-prys. Schoeman ontvang twee keer die Louis Hiemstra-prys vir nie-fiksie. Hy ontvang ook die Stals-prys vir kultuurgeskiedenis, die M-Netprys vir Verkenning en die Prix du Meilleur Livre Etranger-prys vir die beste buitelandse roman in Frankryk vir die vertaling van Hierdie lewe.

In 2004 – 2011 volg nog werke oor die vroeë Kaapse geskiedenis uit Karel Schoeman se pen. Etlike van sy werke is vertaal in Engels, Nederlands en Duits. In 2006 ontvang hy 'n toekenning van die Departement van Kuns en Kultuur vir sy lewenslange bydrae tot die Suid-Afrikaanse letterkunde. Schoeman ontvang eredoktorsgrade van die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit van die Vrystaat.

- Bronne: 'n Samestelling van ’n NALN-brosjure deur S.A. Vermeulen, Maart 2011, asook inligting verskaf deur Leana Lategan (hoofvakkundige by NALN, 5 Mei 2017).

© Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN), Bloemfontein.


Fakulteitkontakte

T: +27 51 401 2240 of humanities@ufs.ac.za

Nagraads:
Marica Coetsee: +27 51 401 2369

Voorgraads:

Katlego Mabulana: +27 51 401 2495
Juanita Hlongwane: +27 51 401 3269

Humanities photo next to contact block