20220803_172428

Skryfkunskursus spog met nog drie boeke

Op Woensdag 3 Augustus 2022 het die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans van die UV drie boeke bekendgestel wat uit die kraal kom van sy MA vir kreatiewe skryfkuns. Die skrywers betrokke was Franco Colin, Adele Vorster en Pieter Stoffberg.

Prof Angelique van Niekerk (departementshoof) het die bekendstelling en verwelkoming gedoen waarna die twee studieleiers en skryfbegeleiers, Prof Henning Pieterse en Dr Francois Smith die onderhoude gevoer het.

Ten spyte van die drie uiteenlopende publikasies was die sentrale tema in al drie gevalle kwesbaarheid en krag.

Dr Franco Colin is ʼn psigiater van Pretoria en sy digbundel, Skeletaal, by die uitgewer Imprimatur, is reeds baie goed ontvang deur verskeie resensente. Colin self vertel dat hy skryf oor die stemlose kwesbares. Poësie is volgens Colin gekondenseerde emosie. Hy het ʼn voorliefde vir intellektuele poësie en ook in sy eie digwerk sal die leser wat die uitdaging aanneem, ryklik beloon word.

Pieter Stoffberg, ʼn regsman van Ermelo, se roman Tenk is deur Penguin-Random House uitgee. Dit is in sy eie woorde “faction” en 90% daarvan spruit uit onderhoude, dagboeke en gesprekke met mense wat deel gehad het aan die oorlog in 1987 in Angola. Hy belig die komplekse aard van oorlog vir diegene voor en agter die tenk. Dis egter ook ’n eg menslike verhaal van hoop en moed.

Adele Vorster was ook ʼn voorgraadse student van die departement. Haar boek, Tien voor een (Protea-uitgewers) takel die gewigtige temas eetverslawing, liefdesteleurstelling en jeugtrauma. Adele se boek is in haar eie woorde “’n fisieke manifestasie van haar heelwording”.

Die bekendstelling is ook ʼn dankie aan die drie genoemde uitgewers en spesifiek Protea-uitgewers vir hul teenwoordigheid. Dit was ook ʼn spoggeleentheid vir die kundigheid van die skryfbegeleiers, prof. Henning Pieterse en Dr. Francois Smith - beide skrywers in eie reg.

Die bekendstelling was ʼn viering van drie van nie minder nie as vyf boeke wat vanjaar vanuit die departement se program vir Kreatiewe Skryfkuns die lig sien.

Meer besonderhede oor die MA in Kreatiewe Skryfkuns en PhD in Kreatiewe Skryfkuns is op die departement se webblad en die fakulteit se reëlboek te vind.

 


Fakulteitkontakte

T: +27 51 401 2240 of humanities@ufs.ac.za

Nagraads:
Marica Coetsee: +27 51 401 2369

Voorgraads:

Katlego Mabulana: +27 51 401 2495
Juanita Hlongwane: +27 51 401 3269

Humanities photo next to contact block