Francois Smith, senior dosent aan die Departement Afrikaans & Nederlands, Duits & Frans, se jongste roman, Die getuienis, is pas op ʼn glansgeselligheid in die Mount Nelson-hotel in Kaapstad met die kykNET-Rapport Herman Binge-filmprys bekroon. Hierdie prys word jaarliks toegeken aan ʼn fiksiewerk met die meeste filmpotensiaal.
Volgens die keurders is Die getuienis, oor ’n arm egpaar se geloofsreis na ’n afgeleë godsdiensbyeenkoms, “’n meesterlike wisselwerking tussen opregtheid, humor en trauma”.
By dieselfde geleentheid het Charl-Pierre Naudé, ʼn navorsingsgenoot van die departement wat pas ook sy doktorsgraad in filosofie aan die UV behaal het, die KykNet-Rapport-prys gekry vir die beste fiksie-resensent van die jaar. Die prys is aan hom toegeken vir sy resensie van Aryan Kaganof se roman Die wrede relaas van Vuilgat en Stilte. Hierdie resensie het in September vanjaar in die dagblaaie Volksblad, Die Burger en Beeld verskyn.
Smith het ook die onderskeiding behaal dat sy roman Die kleinste ramp denkbaar die onderwerp was van Izak de Vries se resensie wat bekroon is met die KykNet-Rapport-prys vir langer resensies. Hierdie resensie het in April op LitNet verskyn.